full screen background image
Alfred Hlongwane, die Wiers-gesin se tuinier, het vanoggend (Vrydag) saam met die eerste verdagte, Frans Maela in die Polokwane Landdroshof verskyn. Beide word van die wrede moord op Tanya Wiers verdink. (Foto: Verskaf)

Wiers-gesin se tuinier nou óók in aanhouding

1054

Die eerste verdagte in die Tanya Wiers-moordverdagte, Frans Maela het vanoggend (Vrydag) saam met die Wiers-tuinier, Alfred Hlongwane (45) op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede in die Polokwane Landdroshof verskyn waarna die saak tot later vandeesmaand uitgestel is.
Hlongwane wat van Zebediela afkomstig is, is Woensdag in hegtenis geneem nadat die hof die vorige dag moes aanhoor dat Maela vir Hlongwane in ‘n bekentenis impliseer, maar dat nog geen poging aangewend is om hom (Hlongwane) te arresteer nie.
Die ondersoekbeampte, Lesibana Mametja het gesê daar is nie genoeg bewyse teen Hlongwane nie, maar landdros, Janine Ungerer het gevra of hy al ooit van die term medepligtige gehoor het, juis omdat Maela in sy bekentenis erken het dat hy en Hlongwane saam in die Wiers se huis in Eduanpark was waar die moord op Tanya op 7 Februarie gepleeg is.
Hlongwane wat verward voorgekom het, het tydens die hofverrigtinge aanhoudend gesê dat hy niks met die moord te doen het nie. Ungerer het later die tolk gevra om by Hlongwane te hoor of alles in orde is en of sy hom vir observasie kan stuur omdat hy heeltyd geglimlag het.
Die staat het aangevoer dat die polisie-offisier aan wie Maela die bekentenis gemaak het nie vandag (Vrydag) in die hof kon wees nie omdat hy uitstedig is. Ungerer het gelas dat die saak uitgestel word totdat die tweede getuie in die hof kan wees en om met Hlongwane se borgaansoek te begin.
Provinsiale polisie se kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo het bevestig dat Hlongwane gearresteer is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com