full screen background image
Frans Maela en Alfred Hlongwane sal Woensdag hoor of hulle borgtog toegestaan is. Beide is in aanhouding in verband met die moord op Tanya Wiers in Februarie.

Wiers-aangeklaagdes hoor volgende week oor borg

555

Uitspraak in die borgaansoek van die twee verdagtes, Frans Maela en Alfred Hlongoane wat die moord op Tanya Wiers op 7 Februarie in haar huis in Eduanpark verdink word, sal Woensdag in die Polokwane landdroshof gelewer word.
Vanoggend (Donderdag) het die staat ‘n laaste getuie geroep. Polisiekaptein John Nthini het vir ondersoekbeampte Lesibana Mametja ingestaan terwyl dié met verlof was, het getuig dat Maela se skoen, oorpak en die beweerde moordwapen, ‘n mes, vir forensiese ontleding gestuur is.
Hy het gesê dat daar vingerafdrukke op die mes was, maar kon nie sê wie vingerafdrukke dit is nie en het verduidelik dat die polisie nog op van die forensiese uitslae wag. Nthini het aangedui dat die uitslae na verwagting volgende maand beskikbaar sal wees.
Die verdediging het tydens slotbetoë aangevoer dat daar geen konkrete bewyse teen Hlongoane, behalwe die bekentenis van Maela waarin hy geïmpliseer word, is nie en dat beide aangeklaagdes gevestigde woonadresse het en dus borgtog toegestaan kan word.
Die staat het teruggekap en gesê dat beide verdagtesoor hul woonplekke gejok het en dat die adresse wat hul in die hof verskaf het, verskil van wat in die dossier aangeteken is en wat die twee in hul verklarings verskaf het. Die staat het verder gesê die bekentenis van Maela en die implisering van Hlongoane daarin het substansie en dat die gemeenskap nie meer vertroue in die regstelsel sal hê indien hul op borgtog vrygelaat word nie.
Landdros Janine Ungerer het die borgaansoek tot 22 Maart vir uitspraak uitgestel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com