full screen background image

Westenburg Sekondêre Skool bereik mylpaal met dertigste verjaarsdag

987

LEANDRI VAN SCHALKWYK

Dis nie aldag dat ‘n skool ‘n enorme mylpaal bereik nie, maar Westenburg Sekondêre Skool het onlangs ‘n baie spesiale geleentheid beleef toe hulle hul 30ste bestaansjaar gevier het.
Dit was veral vir Bettie Boom, adjunkhoof, onderwyser en oudleerder ‘n hoogtepunt in haar loopbaan. Sy is vir meer as 22 jaar by die skool betrokke. Boom sê Westenburg Sekondêre Skool is uniek met hoogte- en laagtepunte oor die jare.
“Die skool het ‘n ryk geskiedenis waarop oudleerders baie trots is. Tans gaan die skool van krag tot krag en ek is seker dat ons nog baie kan bereik. Nadat ek onderwys studeer het, het ek besluit om terug te keer na die skool as onderwyser om terug te gee aan die gemeenskap. Dit was baie spesiaal om deel van die skool se verjaarsdag te kon wees,” sê Boom.
Die feesviering het vir groot pret en baie ‘onthou-jy-nog-staaltjies’ gesorg. Oudleerders, -hoofde, -onderwysers, asook familie en vriende wat betrokke by die skool was, het van heinde en verre gekom vir die feesvieringe wat oor vier dae gestrek het.
Die verrigtinge het verlede Vrydagaand met ‘n dans vir die leerders begin wat hul terdeë geniet het.
Tydens die die gala-aand verlede Saterdag het gaste en eregaste ‘n gesellige aand saam deurgebring waartydens meer oor die geskiedenis van die skool vertel is.
Die skool is amptelik op 25 Mei 1985 deur Cater Ibrahim, destydse minister van onderwys en kultuur geopen.
Foto’s van almal wat oor die jare ‘n wesenlike rol in die skool se bestaan en ontwikkeling gespeel het, is op ‘n grootskerm vertoon.
Gaste is deur die twee seremoniemeesters wat ‘n lang pad met die skool loop en albei op die beheerliggaam is, Joey Williams en Rowland Stander vermaak.
John Smit, die eerste skoolhoof, is tydens die aand vereer en sy familie wat al die pad van Pretoria gereis het om die aand by te woon het namens hom ‘n ere-toekenning ontvang. Oud-hoof VP Rogers se seun het sy toekenning ontvang,
Oudhoofde wat die aand bygewoon het, was J Mohammed, W Swartz en T Ramara.
Die eerste hoofmeisie van die skool, Connie Southon (née Whitehead) het haar ervaring met gaste gedeel.
Verlede Sondag is die verjaardag ook op ‘n gepaste wyse met ‘n spesiale erediens gevier. Die vieringe is Maandag voortgesit toe leerders van die skool met koek en kolwyntjies verras is.
Mothiba Pholosho, hoofmeisie, Stander, ondervoorsitter van die beheerliggaam, Heleen Peasnall, kringbestuurder van departement van onderwys, Jimmy Steele, waarnemende skoolhoof en Lawrence Adams, hoofseun was saam met die leerders deel van die spesiale oomblik.
Steele sê dat dit ‘n uiters suksesvolle naweek was en dat hulle baie geseënd is om deel te kan wees van die volgende hoofstuk in die geskiedenis van die skool wat nou geskryf word.

Joseph Lekganyane met Westenburg Sekondêre Skool se verjaardagkoek.

Joseph Lekganyane met Westenburg Sekondêre Skool se verjaardagkoek.

Die gala-aand was ‘n baie spesiale aand vir die twee niggies, Angela Rogers wat in 1996 gematrikuleer het, en Bridget Southon wat in 2008 haar skoolloopbaan voltooi het.

Die gala-aand was ‘n baie spesiale aand vir die twee niggies, Angela Rogers wat in 1996 gematrikuleer het, en Bridget Southon wat in 2008 haar skoolloopbaan voltooi het.

Adjunkhoof, Bettie Boom stap al ‘n pad van 22 jaar met die skool.

Adjunkhoof, Bettie Boom stap al ‘n pad van 22 jaar met die skool.

IMG_1784_650x433

Allistor Laubscher en sy vrou Antonette, wat in 2000 gematrikuleer het, tydens die gala-aand.

Allistor Laubscher en sy vrou Antonette, wat in 2000 gematrikuleer het, tydens die gala-aand.