full screen background image

Vyf sekuriteitsbeamptes beseer na rowers toeslaan

433

Die polisie het bevestig dat ‘n transitorooftog buite die stad op die Matlalapad vroeër vandag (Donderdag) plaasgevind het en gesê vyf sekruteitsbeamptes is beseer toe vier verdagtes omstreeks 04:00 op ‘n geldwa en loodsvoertuig losgebrand het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê vinnige optrede deur die polisie het binne enkele ure tot die inhegtenisneming van vier verdagtes by ‘n vulstasie op die Lebowakgomopad gelei.
“Die verdagtes is tussen die ouderdom van 26 en 53 en sal binnekort in die Polokwane landdroshof verskyn. Hul het op twee sekuriteitsvoertuie losgebrand waarna beide voertuie omgeslaan het. Vyf sekuriteitsbeamptes is ernstig beseer,” sê Ngoepe. ‘n BMW wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is, is ook op die toneel gevind.
“’n Taakspan bestaande uit lede van verskeie polisie-eenhede onder leiding van provinsiale adjunkkommissaris van die speurdiens, Bafana Linda het dadelik ‘n soektog van stapel gestuur. Inligting is vinnig opgevolg en verdagtes is by die vulstasie aangekeer,” sê Ngoepe.
Polisie het op twee aanvalsgewere met vier magasyne, twee pistole en vier motors insluitend die BMW beslag gelê. Die oorsprong van die voertuie en die vuurwapens sal deel van die ondersoek vorm.
Die ondersoek duur voort.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com