full screen background image
Ansa van der Walt, kankerlyer saam met Gail Brebner, kankeroorwinnaar. (Foto's: Verskaf)

Vrouedag vir Ansa ’n massiewe sukses

362

Die dag ten bate van kankerlyer, Ansa van der Walt, wat Saterdag in Polokwane plaasgevind het, het amper dubbel die opbrengs gelewer as waarop gehoop is en sal aangewend word vir Van der Walt se mediese behandeling.
Spreker en vriendin van Van der Walt, Elizabeth du Plessis, het oor vrouwees gepraat. “Vrouens deel dieselfde vrese en drome en betree elke nuwe lewensfase met ‘n mengsel van verwondering en kommer. Ons maak aanhoudend belangrike keuses omdat ons aanpasbaar is. In plaas van om te vra ‘Wat as’ sê ons ‘Hoekom nie?’”
Du Plessis het vroue aangemoedig om nuwe moontlikhede te ondersoek, nuwe gawes te ontdek en nuwe talent te ontwikkel. “Vier jou vrouwees en verkondig dit met trots aan die wêreld.”
Debbie Ellis, skoonheidsredakteur van ‘n vrouetydskrif en oudinwoner van Polokwane het een van die gaste, Adrie Booysen, grimeer en skoonheidsadvies met die klem op gesigskontoere gegee. “Ek beveel veral warm kleure soos bruin, brons en warm pienk skakerings aan,” sê Ellis en het klem gelê op innerlike skoonheid wat grimering bloot aksentueer.
Dekorredakteur van dieselfde tydskrif, Carmen Hosten, het praktiese raad gegee om ‘n woonplek in ‘n veilige, rustige omgewing te omskep. “Gebruik natuurlike lig waar moontlik en bring die natuur in jou huis deur strategies van plante gebruik te maak.”
Haar voorstel dat elkeen doen waarvan jy hou, soos om ‘n muur pienk te verf as dit jou gunstelingkleur is solank jy matigheid voor oë hou, het groot aanklank by die gehoor gevind. Haar voorkeur bly sagte skakerings van blou, omdat dit die illusie van water skep en ‘n baie kalmerende invloed het.
Gail Brebner, ‘n plaaslike inwoner, wat dieselfde kankerpaadjie as Van der Walt gestap het, het haar storie met die gehoor gedeel en onder meer vertel dat haar inspirasie in daardie moeilike tyd ‘n wit veer was. “Ek was onseker oor die operasie en daaropvolgende behandeling en het by by kombuisvenster gestaan toe ‘n wit veer voor my verby fladder. Dadelik het ek aangevoel dat alles goed sal afloop.”
Toe sy ‘n paar weke daarna weer besluite moes neem, het sy in haar eetkamer gestaan en ‘n wit veer het ter bevestiging van haar besluit op haar geval.
Brebner het vertel dat sy baie gespanne was om by dié geleentheid op te tree en het Vrydag in haar motor gesit en tob toe ‘n wit veer weer sy verskyning maak. Sy het toe geweet alles sal goed verloop.
Thys die Bosveldklong het tussendeur ‘n paar liedjies gesing en die dag is met ‘n veiling afgesluit. Hosten het voorgestel dat elkeen ‘n R20 bydrae maak tot ‘n skildery wat Van der Walt gedoen het en agterop teken, sodat sy dit as herdenking kan hou.
Zulandi Wocke het haar dank teenoor almal uitgespreek wat die dag moontlik gemaak het.

Storie: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za

Zulandi Wocke by ‘n vuurpot wat opgeveil is.

Debbie Ellis, skoonheidsredakteur en Carmen Hosten, dekorredakteur, van ‘n tydskrif.