full screen background image
Vriende van die SAVF, Betsie Stander, Marie van Zyl, Jurie en Hantie van Staden en Magda Wentzel verkeer gesellig by die ete.

Vriende van SAVF bedank vir hul bydrae

285

Die bestuur van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Polokwane het Vrydag ‘n ontbyt vir vriende van die organisasie by Vergeet-My-Nie Tehuis aangebied.
Bestuurder van die tehuis, Dawie Lee, het die gaste verwelkom en beklemtoon dat dit ‘n voorreg is om te kan gee. “Die hele SAVF werk met vrywilligers. Almal gee op die een of ander wyse, selfs diegene wat nie in oorvloed het nie, gee hul tyd en ondersteuning. Enige persoon kan iets doen, al is dit net om met ons inwoners te kuier en ons jongste vrywilligers is jonger as 12 jaar oud,” het Lee gesê. Lee het lede van die publiek uitgenooi om as vrywilligers betrokke te raak by die aktiwiteite van die komitees vir fondsinsameling en bemarking, transformasie en werwing en opleiding en ontwikkeling.
Komiteelid van die SAVF Polokwane, Dirk Liebenberg, het aangekondig dat ‘n hele aantal projekte vanjaar by die sentrum van stapel gestuur word. “Ons gaan met die algemene opknapping van die geboue begin en die Alzheimers-afdeling opgradeer. Daar gaan ook ‘n braaiplek vir inwoners gebou word waar hulle besoekers kan onthaal en aandetes gaan uitgekontrakteer word.”
Liebenberg het sy waardering uitgespreek teenoor die publiek en instansies wat die SAVF op ‘n deurlopende basis ondersteun en het die personeel van die SAVF vir hul onbaatsugtige diens bedank.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Sophia de Swardt, Beatrice Loots, Heila van den Berg, Glaudine Smit en Skieppie Vermaak sorg dat die vriende van die SAVF ‘n smaaklike ontbyt geniet.

Komiteelid van die SAVF Polokwane, Dirk Liebenberg, voer die woord tydens die ete.