full screen background image
Jordan Clarke in aksie tydens die onlangse o.18-Cravenweek in Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Voormalige Suidskoolleerder maak naam op rugbyveld

593

Jordan Clarke, oudleerder van Pietersburg Laerskool, hou sy alma mater se naam hoog nadat die keurkomitee vir die o.19-internasionale skolespan hom tydens die onlangse o.18-Cravenweek in Johannesburg raakgesien het.
Die lywige losskopstut met die bynaam, Os, is nou ‘n graad 11-leerder aan die Glenwood High School in Durban en is vir die skolespan gekies wat van 11 tot 19 Augustus in Kaapstad aan die internasionale o.19-skole toernooi in Kaapstad deelneem waar hulle teen Wallis, Frankryk en Engeland sal meeding.
Volgens Jordan se ma, Carene, wat steeds in Polokwane woon, is hy trots en dankbaar. “Hy is baie opgewonde oor die kragmetings teen oorsese spanne en om die groot eer gestand te doen, wil hy net sy beste lewer. Sy harde werk en lang ure op die oefenveld en in die gimnasium het uiteindelik vrugte afgewerp” sê sy.
Jordan het sedert sy laerskooldae aan Pietersburg Laerskool in rugby uitgeblink, alhoewel sy eerste kennismaking daarmee by Suikerbekkie Kleuterskool was waar hy bulletjierugby gespeel het. As graad 6-leerder in 2012 het hy Limpopo-kleure verwerf sowel as die volgende jaar. In 2013 is hy vir die o.13-Cravenweekspan gekies wat toe reeds die oë laat rek het. “Na afloop van die Cravenweek het verskeie hoërskole hom met sportbeurse genader, maar hy het Glenwood gekies al was dit vir ons almal ‘n groot aanpassing. Hy het uitstekend gedoen en goed ingeskakel omdat hy ‘n tropdier is en daarvan hou om deel van ‘n groep of span te wees. Dit is ‘n seuns­skool wat uit sowat ses spanne per ouderdomsgroep bestaan en Jordan draf sedertdien vir die A-span uit en speel vanjaar vir die eerstespan,” sê Carene.
Jordan koester herinneringe van vriendelike en hulpvaardige onderwysers by Suidskool. “Graad 7 was beslis ‘n hoogtepunt toe ek vir die eerstespan gespeel en ons as wenners van die Bondedag aangewys is. Dit was ‘n groot besluit om op so jong ouderdom Durban toe te gaan en ek mis my vriende en veral my familie wat ek moes agterlaat.”
Hy het groot passie vir die spel en die fisieke uitdagings wat daarmee gepaard gaan. As klein seuntjie het hy al gesê hy wil ‘n Springbok word. Die lekkerste vir hom is die kameraderie en vriende wat hy maak, volgens Carene. Dit is dus geen wonder dat hy sê sy stokperdjie is om baie tyd saam met sy vriende te spandeer en saam met hulle te kuier nie.
Hy het nog nie planne vir stu­dies na skool nie, maar rugby sal ‘n groot deel daarvan wees. Bene­wens sy droom om die Springboktrui oor sy kop te trek, wil hy graag vir die Franse span, Toulon speel.
Intussen sien hy baie uit na die kragmeting met die internasionale spanne later vandeesmaand en verwag dat dit moeilike wedstryde gaan wees, maar dat die Suid-Afrikaners vir niemand hoef terug te staan wanneer dit by rugby kom nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com