full screen background image

Vier skermers op pad na Statebond

447

RC Myburgh

Vier skermers van die plaaslike Firebird Fencing Club is trots op hul onlangse prestasie om gekies te word om aan die Commonwealth Fencing Junior and Cadet Championships deel te neem.
Charl Venter, Moné McCabe, Anerique van der Walt en Emme-Jé Hatton is almal leerders van Hoërskool Pietersburg (PHS) en laat nie met hulle mors wanneer dit by skermkuns kom nie.
Hulle het op 9 en 10 Mei aan die Suid-Afrikaanse Skermkampioenskappe in Bloemfontein deelgeneem waar hulle onder die beste vier deelnemers in die foil- en épée-afdelings geëindig het en sodoende hul plek in die Statebondspan verseker het.
Hul algehele prestasie deur die jaar en die skermers se huidige plek op die nasionale ranglys is ook in ag geneem tydens die samestelling van die spanne wat van 11 tot 17 Julie in Kaapstad teen ongeveer 31 lande sal kompeteer.
Charl sal in die kadet foil- en épée-afdelings kompeteer terwyl Moné haar stem sal dikmaak in die junior foil- en épée- sowel as die kadet foil- en épée-afdelings.
Anerique neem in die kadet foil-afdeling deel terwyl sy as reserwe vir die junior foil-afdeling gekies is. Emme-Jé kompeteer in die kadet épée-afdeling.
Die kwartet oefen twee maal per week by die klub en ook op hul eie wanneer hulle tuis is.
Charl is sedert die stigting van Firebird Fencing Club ongeveer drie jaar gelede deel van die handjievol skermers wat dié unieke sport in die stad beoefen.
“Skerm het my nog altyd gefas-sineer en ek het deur my pa van die klub te hore gekom en aangesluit. Die lekkerste van skermkuns is om jou opponent te uitoorlê met ‘n vinnige skelm steekhou,” sê Charl. Volgens hom is geduld, strategie, spoed en akkuraatheid goeie eienskappe vir ‘n skermer.
“Ek kan nie genoeg klem op fiksheid lê nie,” voeg Moné by. Sedert laerskooldae het sy skermkuns beoefen, maar het ‘n paar jaar ander sportsoorte gedoen totdat sy ongeveer agt maande gelede weer ernstig begin skerm het.
“Jy moet rats en vinnig op jou voete wees en hoe fikser jy is, hoe makliker beweeg jy op jou voete sonder om gou moeg te word,” sê sy en voeg by dat die uniekheid van die sport haar belangstelling geprikkel het. Oor haar plek in die Statebondspan is sy baie trots, maar sê dit is tog senutergend omdat nie een van hulle weet wat om te verwag nie.
Emme-Jé is deur ‘n vriendin saamgenooi klub toe en die gogga het haar daar en dan gebyt. “Dit is nou vyf maande later en ek is trots dat ek so vinnig kon vorder. Skerm is iets anders en dit is my grootste droom om eendag vir die Olimpiese span gekies te word,” sê sy.
Sy oefen daagliks tuis teen ‘n spesiaal ontwerpte bord terwyl Anerique die meer primitiewe oefentegniek van ‘n tennisraket met ‘n R5-munt in die middel vasgemaak verkies.
Anerique sê sy het nog altyd van kontak- sowel as ekstreemsport gehou. Sy het voorheen onderwaterhokkie gespeel en perdgery.
“Oefening is baie belang-rik om tegniek aan te leer en daarby te hou. Om jou afrigter se raad en advies ter harte te neem is sekerlik die beste ding om te doen om in dié sport uit te blink,” sê sy.
Al vier skermers is dit eens dat afrigter, Wally Goosen die beste is en baie tyd met hulle spandeer om hul slagge-reed vir kompetities en internasionale deelname te kry.