full screen background image

Vermeende besope vrou ploeg deur hek

349

Die Polokwane polisie ondersoek ‘n saak van dronkbestuur sowel as roekelose of nalatige bestuur nadat ‘n 26-jarige vrou Sondagoggend met ‘n motor deur ‘n hek in Jupiterstraat, Sterpark geploeg het.
Volgens Polokwane Polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die vrou nie in die hof verskyn nie, maar is wel Maandag deur die ondersoekbeampte gewaarsku om op 31 Maart volgende jaar by die Polokwane Landdroshof aan te meld.
“Omdat sy nie amptelik in die hof verskyn het nie, kan ons nie haar identiteit bekendmaak nie. Sy is gewaarsku om volgende jaar in die hof te verskyn, hangende die afhandeling en beskikbaarstelling van bloedtoetse,” sê hy.
Die verdagte het Sondag omstreeks 07:25 deur die hek van Leon de Villiers se huis geploeg nadat sy vermoedelik teen ‘n hoë spoed om die draai gery en beheer oor die Volkswagen Polo verloor het.
“Ek het televisie gekyk toe ek ‘n slag gehoor het. Ek het die hek se afstandbeheerder gegryp en opgespring om te kyk wat in die straat aangaan,” sê De Villiers.
Tot sy ontnugtering het hy gesien hoe die vrou in ‘n blombedding tot stilstand gekom het nadat sy deur die hek gebars het.
“Sy het glo probeer om die toneel te verlaat, maar ek het haar aangekeer. Sy was vermoedelik besope en bier is ook in haar motor gevind,” sê De Villiers.
Hy het tussen R30 000 en R40 000 skade gely.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Featured photo: Die bestuurder van dié Volkswagen Polo het Sondagoggend deur ‘n hek in Jupiterstraat geploeg en in ‘n blombedding tot stilstand gekom.