full screen background image
Polisie verwyder die liggaam nadat dit in die Nandonidam gevind is.

Verdrinking-nagmerrie

512

‘n Reeks verdrinkings in damme regoor Limpopo die afgelope maand en die polisie se pleidooi om veiligheid van kinders te verseker is die naweek beklemtoon toe ‘n 18-maande-oue kleuter in Letsitele dood is nadat hy vermoedelik in ‘n oop boorgat geval het.
Mighty Baloyi se lewelose liggaam is Maandag in die vroeë oggendure uit die boorgat gehaal nadat nooddienswerkers sedert Saterdagmiddag met ‘n reddings­poging besig was.
Volgens provinsiale polisiewoord­voerder, Maphure Manamela, is dit nie duidelik hoe die kleuter in die oop boorgat beland het nie, maar die polisie se soek- en reddingseenheid so­wel as ander nooddienswerkers is Saterdag na die toneel ontbied. Grondverskuiwings­masjinerie is ook ingespan om die grond rondom die boorgat te verwyder.

Omstanders en polisielede op die toneel by Nandonidam waar ‘n 20-jarige vrou verlede Woensdag verdrink het.

‘n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen en Manamela het weer eens ‘n beroep op ouers gedoen om verantwoordelikheid vir hul kinders se veiligheid te neem. Die Demokratiese Alliansie (DA) het Maandag die familie besoek om hul medelye te betoon. Die DA is van mening dat daar verskeie oop boorgate in die Mopani munisipale gebied is en wat ‘n gevaar veral vir kinders inhou, volgens die DA se politieke hoof in Tzaneen, Desiree van der Walt. Sy het verder gesê die DA sal ‘n skrywe aan die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Jerry Ndou, stuur om duidelikheid oor oop en ongebruikte boorgate in die distrik te kry.
Intussen het die polisie bekendgemaak dat tien mense sedert die begin van Oktober in damme regoor die provinsie verdrink het.
Die provinsiale kommunikasiehoof, Motlafela Mojapelo, het sy kommer oor die hoë aantal sterftes uitgespreek en gesê benewens nalatigheid is die groot rede agter die sterftes mense wat lafenis teen die hitte soek, in damme of waterpoele gaan swem en dan in die moeilikheid beland. Hy het verder gesê dat die reënseisoen op hande is en dat damvlakke moontlik kan styg en riviere wat periodiek vloei, ‘n gevaar vir besoekers kan inhou.

Na aanleiding van die jongste voorval waar ‘n vrou verlede Woensdag by die Nandonidam buite Thohoyandou van ‘n boot afgeval en verdrink het, sê Mojapelo die polisie is bekommerd oor mense se veiligheid veral wanneer dit by bootry kom.
Volgens hom was die 20-jarige Rolivhuwa Mbedzi saam met vriende op ‘n motorboot toe sy omstreeks 18:30 om een of ander rede van die boot afgeval en verdrink het.
Mojapelo sê die polisie se soek- en reddingseenheid is dieselfde aand na die dam ontbied. Die teenwoordigheid van ‘n groot aantal krokodille in die dam het tot gevolg gehad dat reddings­werkers slegs ‘n boot vir die soektog kon gebruik en glad nie in die water kon duik nie.
Die polisie se onverpoosde soektog het Sondag vrugte afgewerp toe die liggaam op ‘n ander plek in die dam gevind is.
Mojapelo sê mense moet ten alle tye die voorgeskrewe wetgewing wat op die gebruik van bote van toepassing is, nakom deur onder andere reddingsbaadjies te dra. Hy het verder gewaarsku dat bote eerder gedurende die dag gebruik moet word wanneer sigbaarheid beter is.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Nooddienswerker gebruik ‘n pik om grond langs die boorgat op te ruim.

Grondverskuiwingmasjinerie word ingespan om grond rondom die boorgat waarin ‘n kleuter vermoedelik geval het, te verwyder.