full screen background image
Braam Strydom word vandag (Donderdag) begrawe.

Tweede tragedie: Man doodgeskok

1968

Terwyl Caroline Strydom (40) steeds die fratsongeluk verwerk waarin haar jongste seun, Kosie Wessels (8), verlede jaar sy hand weens ‘n bomklapperontploffing verloor het, moes sy verlede Woensdag toekyk hoe een van haar twee­lingseuns, Braam (22), op hul huis se dak in Pietersburgstraat, Ladanna doodgeskok word.
“Ek was in die huis en Braam besig om blare van die dak af te vee toe ek ‘n klapgeluid hoor. Ek het dadelik na hom geroep, uit­­gestap en gesien hoe hy bo-op die geiser lê en ruk,” vertel sy.
Caroline het aanhoudend na hom geroep totdat ‘n buurman gevra het wat fout is. Dié het besef wat gebeur het en dadelik beveel dat die elektrisiteit by die hoofskakelaar in die huis afgeskakel word. Hy en Strydom se een dogter, Bianca (12), het op die dak geklim en Bianca het dadelik noodhulp toegepas terwyl ander bure die nooddienste geskakel het.
“Braam het waarskynlik aan ‘n oop elek­trie­se kabel geraak. “Dit was baie moeilik om te sien hoe my kind doodge­skok word. Die nooddienste was vinnig op die toneel, maar het hom dood verklaar,” sê Caroline en voeg by dat die huis baie oud is.
Sy verwerk steeds Kosie se ongeluk in September verlede jaar waarin ‘n bomklapper sy linkerhand aan flarde geskiet en dit geamputeer moes word.
“Dit voel of die huis baie ongeluk vir my veroorsaak,” sê sy. Braam was leergestremd en het geld met los werkies in die stad verdien.
Caroline, ‘n enkelma, probeer tans om geld in te samel sodat ‘n professionele elektrisiën die huis se bedrading kan nagaan en herstel. Sy en haar gesin het intussen by haar suster ingetrek totdat ‘n elektrisiteitsertifikaat vir die huis uitgereik word.
Braam word vandag (Donder­dag) om 10:00 begrawe waarna die kerkdiens om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk op die hoek van Potgieterlaan en Andrewstraat gehou sal word. Benewens sy ma, Kosie en Bianca laat hy sy broer, Pieter, en suster, Annabel (17), agter.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com