full screen background image
Jacques Smalle, provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie, bepleit die herinstelling van gespesialiseerde eenhede om veral ernstige misdaad in landelike gebiede te ondersoek.

Twee in hof na moord op boer

488

Twee verdagtes wat van die moord op Johan Kruger (57) op ‘n plaas naby Saamboubrug digby die Botswanagrens op 14 Desember verdink word, sou na verwagting Dinsdag weer in die Senwabarwana landdroshof verskyn het.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe, kon nie die verdagtes se name verskaf nie en het gesê dit sal bekend gemaak word sodra hy die uitslag van die hofverskyning ontvang het.
Die twee verdagtes is op die pad tussen Vivo en Alldays na ‘n skietery tussen hulle en lede van die Vivo Plaaswag vroegoggend na die voorval aangekeer.
Ngoepe sê Kruger en sy vrou, Fiona, is om ongeveer 01:00 is hul huis deur drie gewapende verdagtes oorval. Kruger is blykbaar in die kop geskiet waarna die verdagtes glo die egpaar se bankkaarte en geheime kodes geëis het. Die huis is ook glo geplunder voordat hulle gevlug het.
Fiona het glo by hul bure om hulp gevra, die polisie is ontbied en die plaaswag in kennis gestel.
Ngoepe sê plaaswaglede het ‘n verdagte motor op die pad tussen Vivo en Alldays probeer aftrek toe die insittendes op hulle losgebrand het. Die lede het glo teruggeskiet en een ver­dagte gewond terwyl die ander twee by ‘n nabygeleë plaas ingehardloop het, volgens Ngoepe.
Die polisie se hulp is tydens die soektog ingeroep wat tot die arrestasie van die tweede verdagte gelei het. Die derde een is steeds soek.
Gedurende die arrestasie is drie vuurwapens, drie jaggewere, lewendige ammunisie, kontant, ‘n televisie, mikrogolfoond, olifanttande en twee selfone gevind. Die voertuig is ook gekonfiskeer.
Die verdagtes staar klagte van moord, onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie en besit van gesteelde goedere in die gesig, volgens Ngoepe.
Die Demokratiese Alliansie (DA) se provinsiale leier, Jacques Smalle, het in ‘n persverklaring kort na die voorval ‘n beroep op die provinsiale regering gedoen om weer gespesialiseerde eenhede wat ernstige misdaad in landelike gebiede ondersoek, in te stel.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com