full screen background image
Lede van die bestuur van Tuiskoms Shelter is Christa van Tonder, Drienie van Wyk, Elize Poolman, Leonora Pienaar en Rini Lindhout, voor. Agter is Paula Booyjens, Charles van Wyk en Erik Bekker.

Tuiskoms Shelter verwelkom gemeenskap

385

Die bestuur van Tuiskoms Shelter is daarop ingestel om ‘n sukses van dié instansie, wat huisvesting en ondersteuning bied aan mense wat weens omstandighede nie meer die mas kan opkom nie, te maak.
Lede van die gemeenskap en sakelui van die stad het Saterdag tydens ‘n opedag ‘n geleentheid gekry om meer te wete te kom van hierdie prysenswaardige inisiatief wat ook sterk deur Vision of Hope Foundation en die Rotariërklub van Pietersburg 100 ondersteun word.
Charles van Wyk, voorsitter, sê dat Tuiskoms ‘n nuwe instelling is en geen verwantskap met Myngenoegen Shelter het nie. Van Wyk word deur ‘n komitee bygestaan wat uit Christa van Tonder, sekretaresse en tesourier, Drienie van Wyk, Vision of Hope-verteenwoordiger, Leonora Pienaar, skakelbeampte, Rini Lindhout, ondervoorsitter, Erik Bekker, addi­sionele lid en Paula Booyjens en Elize Poolman, medebestuurders, bestaan.
Van Tonder sê dat die bestuur trots is op die nuwe eetsaal en planttonnel wat onlangs met die hulp van skenkings opgerig is en opgewonde is oor die nuwe geriewe wat tans deur die Rotariërs opgerig word. “Ons is grootliks afhanklik van skenkings en akkommodeer selfs mense wat geen inkomste het nie. Ons help om hulle by werkgewers te plaas en verskaf vervoer waar nodig,” vertel Van Tonder en voeg by dat inwoners daagliks met projekte besig is en klere en ander verbruikersitems maak wat weer verkoop word.
Van Wyk sê dat enige skenkings op prys gestel word, maar dat kontant ‘n verskil kan maak omdat bedryfsuitgawes soos krag en brandstof hoog is. “Vandag se funksie is deur ruim skenkings moontlik gemaak en die worsbroodjies wat deur die stad se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vir middagete voorsien is, word opreg waardeer,” sê hy.

Storie en fotos: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Iona Snyman, Paula Booyjens en Drienie van Wyk wys die items wat by Tuiskoms Shelter se opedag te koop was.