full screen background image
Drie verdagtes is verlede Donderdag na ‘n transitorooftog gearresteer.

Trio voor hof na transitoroof

656

Drie verdagtes wat verlede Donderdag waarskynlik vir ‘n transitorooftog op die Matlalapad verantwoordelik was, sal na verwagting Dinsdag in die Polokwane Landdroshof verskyn.
Hulle is David Mokete, Jeffrey Maphaki en Oscar Molokwane en het Vrydag vlugtig in die hof verskyn, maar die saak is uitgestel terwyl die trio wat dieselfde dag by ‘n vulstasie op die Lebowakgomopad gearresteer is, in aanhouding bly.
Die polisie het die voorval bevestig en gesê vyf sekruteitsbeamptes is beseer toe die boosdoeners omstreeks 04:00 op ‘n geldwa en loodsvoertuig losgebrand het.
Ngoepe sê vinnige optrede deur die polisie het binne enkele uur tot die inhegtenisneming van vier verdagtes by ‘n vulstasie gelei.
“Hulle het glo op twee sekuriteitsvoertuie losgebrand waarna beide voertuie omge­slaan het. Vyf sekuriteitsbeamptes is ernstig beseer en ‘n BMW wat vermoedelik deur die verdagtes gebruik is, is op die toneel op die Matlalapad gevind. ’n Taakspan bestaande uit lede van verskeie eenhede onder leiding van provinsiale adjunkkommissaris van die speurdiens, Bafana Linda het dadelik ‘n soektog van stapel gestuur. Inligting is vinnig opgevolg en verdagtes is by die vulstasie aangekeer,” sê Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder.
Die polisie het op twee aanvalsgewere met vier magasyne, twee pistole en vyf voertuie insluitend die BMW beslag gelê. Twee van die voertuie is onlangs in Pretoria en Mpumalanga gesteel. Die oorsprong van die voertuie en vuurwapens vorm deel van die ondersoek.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

‘n Forensiesepolisielid op die toneel op die Matlalapad.