full screen background image
Die blitsige Zandré Cloete verbeter 100- en 200 m-rekords asof dit die natuur­likste ding op aarde is.

Topnaelloper, Zandré Cloete laat rekords spat

281

Alle oë is op Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se top naelloper, Zandré Cloete gerig om sy skool en provinsie se naam tydens die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe aan die einde van die maand in Durban hoog te hou.
Dit nadat hy sedert Januarie rekords by elke byeenkoms waaraan hy deelgeneem het, verbeter het.
Tydens die Janus Roberts Gedenkbyeenkoms het hy die 100 m- rekord van 16 jaar verbeter. “Tydens ‘n byeenkoms by Hoërskool Nylstroom het ek die 100 m-rekord wat vir 34 jaar staan, geëwenaar en die 200 m-rekord wat in 2008 opgestel is, laat tuimel,” sê Zandré breëbors.
Dit was ook met die onlangse interhoër op die Peter Mokaba Stadion waar Zandré gewys het wat in hom steek nadat hy die 100 m- en 200 m-rekord wat in 2012 in die geskiedenisboeke opgeteken is, laat spat het. Sy vinnigste tyd in die 100 m is ‘n blitsige 10,63 sekondes met 21,94 sekondes in die 200 m.
Zandré is lid van die plaaslike Mema Atletiekklub en gaan aan die begin van April in klubverband aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe in Kaapstad deelneem.
“Ek neem sedert graad 3 aan atletiek deel, maar moes my liefde vir die sport eers laat vaar nadat ek probleme met my enkels ervaar het. Na ‘n ruskans het ek aan die einde van graad 8 weer ernstig begin oefen. In graad 9 het ek dikwels tweede in naellope geëindig, maar dit my missie gemaak om die eindstreep eerste verby te steek,” sê hy.
Sy afrigter George Mehale, wie se oefenprogram hy getrou volg, is die dryfkrag agter Zandré se sukses.
“Ek is baie trots op my prestasies. Dit is alles te danke aan harde werk. Ek oefen weeksdae ongeveer drie uur lank.” Volgens hom is die eienskappe van ’n goeie atleet iemand wat met passie en die doel om te verbeter, oefen. ’n Goeie atleet steek ook nie lyf weg nie en kry onvoorwaardelike ondersteuning van familie en vriende.
Zandré eet pasta en vleis die dag voor ‘n byeenkoms en geniet druiwesap voor hy hardloop terwyl ‘n sjokolademelkie verlore energie na ‘n wedloop vervang.
Die gedetermineerde atleet sluit hom emosioneel af wanneer hy by die wegspringpunt aantree.
“Ek steur my nie aan geluide of mense langs die baan nie, bly gefokus en luister net na die afsitter se pistool. Sodra die skoot klap is dit net ek, die twee wit lyne langs my en die wenstreep.”
Sy rolmodel is die Olimpiese atleet en 400 m-rekordhouer, Wayde van Niekerk in wie se spore hy graag eendag wil volg.
“Ek wil na skool in ’n elektriese ingenieursrigting studeer, maar steeds op atletiek fokus en die hoogste sport daarin te bereik.”

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com