full screen background image

Toekennings bysaak vir topstapper, Hester Myburgh

335

Ten spyte van vier toptoekennings wat tydens haar klub se jaarlikse prysuitdeling aan Hester Myburgh oorhandig is, bly sy nederig oor haar prestasie en reken dat dit oor veel meer as net toekennings gaan.
Myburgh is tydens Run/Walk for Life se prysuitdeling nie net as 2016 se Vrouestapper van die Jaar aangewys nie, maar het ook die toekenning as 10 km- en 21,1 km Stapper van die Jaar sowel as die 8 km Tyd­toetsstapper van die Jaar ontvang.
“Ek is baie trots op die toekennings, maar dit is onbelangrik en veel lekkerder om terug te dink aan die hoogtepunte, geselskap op die roete en die motivering van mense wat jou tot hoër hoogtes inspireer,” sê sy.
Die sportliefhebber het gereeld gedraf en selfs aan driekamp-kompetisies deelgeneem, maar moes in 2013 na ‘n rugoperasie drasties afskaal. “Stap het vir my ‘n alternatief geword om vir myself uitdagings te stel omdat dit nie net oor fiksheid gaan nie. Dit is vir my belangrik om vordering te maak en met elke wedloop my vorige tyd te verbeter.”
Haar voorbereiding behels daaglikse stap­sessies en kragoefeninge in die gimnasium een dag ‘n week. Saterdae stap sy tussen 16 km en 20 km. “My groter doelwit is om volgende jaar aan die Loskop- en Om die Dam Ultramarathon deel te neem terwyl ek vanjaar soveel moontlik halfmarathons wil voltooi.”
Sy en haar spanmaat, Yoelanda du Plessis is tydens wedlope onafskeibaar. “Terwyl ons voluit stap, is dit eintlik een groot gekuier. Ons gesels oor alles en motiveer mekaar as die pad lank begin raak. Terselftertyd is dit die beste manier om van die week se stres ontslae te raak.”
Stappers moet aan streng reëls voldoen om diskwalifisering te verhoed. Volgens Myburgh is die belangrikste dat stap ‘n hak-toon-beweging is, jou knie moet sluit en een voet moet ten alle tye op die grond wees. “Stap is moeiliker as hardloop omdat jy heeltyd voluit loop en langer teen ‘n konstante hoë tempo moet beweeg.”
Myburgh meen ‘n goeie stapper het uithouvermoë en die honger om mede­dingend in ‘n wedloop te wees. “Benewens fiksheid en die wil om te presteer, moet jy ook ‘n sterk middellyf hê wat deur sterk maag-, rug- en boudspiere ondersteun word.”
Haar raad aan mense wat graag wil begin stap, is om stadig te begin en doelwitte te stel.
“Begin om ‘n rugbyveld stap en vermeerder die rondes stelselmatig. Neem jou tyd en stel dit as maatstaf om op te verbeter. Geselskap is baie belangrik daarom moet jy iemand kry wat saam stap, jou motiveer en daaglikse afsprake nakom,” sê Myburgh.
Run/Walk for Life het atlete vir hul presta­sies beloon. Elsabé Cronjé ontvang vyf toe­kennings waaronder vroue Atleet van die Jaar en Emmanuel Mukondeleli ontvang sewe waaronder Mansstapper- en Atleet van die Jaar.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com