full screen background image
Leonora le Roux Dorfling (links), Benjamin Dorfling (middel) en Marthinus le Roux (regs).

Tiener vertel van moorde en selfdood

760

“As ek jou nie kan hê nie, sal niemand nie. Ek sal jou persoonlik doodmaak.”
Dit was glo die woorde van Benjamin Dorfling aan sy vervreemde vrou, Leonora le Roux Dorfling verlede week in een van vele dreigemente wat hy per SMS en in telefoonboodskappe aan haar gestuur het voordat hy haar en haar broer Saterdagaand koelbloedig doodgeskiet en homself daarna om die lewe gebring het.
Jessica Prinsloo, Leonora se 15-jarige dogter, was by die huis tydens die voorval terwyl haar 11-jarige broer, Gustav by ‘n maat vir die aand gekuier het. Leonora en haar twee kinders het by Marthinus le Roux op die Doornkraal Feesterrein gewoon.
“Tydens die Desember-skoolvakansie het my ma en oom Ben baie baklei. Ons het Februarie by oom Marthinus gaan bly en my ma wou van oom Ben skei. Toe hy Saterdag by die huis opdaag, is ek na vriende toe wat naby woon. Later het ek my selfoon gaan haal en gehoor hoe hulle baklei. Ek was skaars by die huis uit toe ek vier skote hoor en dadelik geweet het daar is groot moeilikheid,” sê die getraumatiseerde Jessica.
Nog inwoners van die feesterrein het hulle na die huis gehaas. “Ek wou ingaan, maar hulle het my gekeer en iemand het my selfs in ‘n voertuig gelaai en met my van die toneel af weggery. Ek vermoed oom Ben het eers my oom geskiet, want my oom sou nie toelaat dat hy my ma seermaak nie. Toe moes hy my ma geskiet het en daarna homself. Ek het nie gesien hoe hy homself skiet soos deur ander koerante berig word nie,” sê sy.
Jessica sê haar ma wou nie meer met Dorfling getroud wees nie. “Dit was asof oom Ben soms sy kop verloor het en my ma het gesê sy kon nie meer so aangaan nie. Dit is baie hartseer en so iets moes nie gebeur het nie,” sê Jessica.
Sy en Gustav sal waarskynlik by hul pa, Coenraad Prinsloo in Pretoria gaan woon. Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
Die provinsiale polisiewoord­voer­der, Moatshe Ngoepe het ge­­­sê twee moordsake word on­­der­soek en ‘n geregtelike doods­ondersoekdossier is geopen. “Drie liggame is op die toneel gevind met ‘n pistool naby Dorfling se liggaam. Die wapen is vir ballistiese toetse gestuur om uit te vind aan wie dit behoort,” sê Ngoepe.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com