full screen background image

Tien op vrye voet na rooftog op plaas

561

Nog geen arrestasies is gemaak na die aanval op die bekende sakeman van Polokwane, Boebie Muller, en sy kleinseun, Jaco, op hul plaas op die Eerstegoud/Geyserpad verlede Donderdag nie. Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die polisie is op soek na tien verdagtes wat by die voorval betrokke was.
Volgens inligting bedryf die Mullers ‘n motoronderdelewerkwinkel op die plaas. “Die verdagtes het hulle glo as klante voorgedoen. Jaco het klaarblyklik saam met die verdagtes na hul bakkie geloop waar hulle hom oorval het en hy drie messteke opgedoen het. Die skurke het toe wapens uit die bakkie gehaal waarna ‘n groep van hulle na die plaashuis gegaan het waar hulle Boebie erg aangerand het,” vertel ‘n bron.
Hulle het glo laat spaander nadat werkers van die Mullers hul teëgesit het en twee skote is blykbaar afgevuur. Die mans het volgens getuies in ‘n blou Corsa-bakkie gevlug.
‘n Buurman van die Mullers sê Jaco het geweier om hospitaalbehandeling vir sy meswonde te ontvang, maar Boebie is Donderdag opgeneem.
Ngoepe sê die verdagtes wou volgens inligting die kluis ook oopbreek, maar kon nie daarin slaag nie en het net met ses selfone op die vlug geslaan.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com