full screen background image

Swemmer Ude Fuchs gekies vir wêreldbekerspan

816

RC Myburgh

Wanneer ‘n mens die graad 11-leerder van Hoërskool Pietersburg (PHS), Ude Fuchs se swemprestasies oor die afgelope elf jaar in ag neem, is dit geen wonder dat hy verlede week gekies is om aan die vyfde Fédération Internationale de Natation (Fina) Junior Wêreld Swemkampioenskappe in Augustus in Singapoer deel te neem nie.
Dié vlak 3-swemmer weet glad nie wat om tydens die wêreldbeker te verwag nie, maar van een ding is hy seker, die kompetisie sal van hoë gehalte wees en hy sal moet uithaal en wys. “Die swemstyle waarin ek gaan deelneem, is nog nie bekend nie, maar ek gaan my beste gee, maak nie saak watter style ek moet swem nie. Dit is ‘n groot eer en ek is trots op my prestasie,” sê Ude.
Sy swemtye in vergelyking met swemmers in ander lande soos Australië en Engeland lyk goed, maar Amerika se swemmers sal sy grootste teenstanders wees.
In 2005 het Ude begin swem en toe reeds die Suid-Afrikaanse Skolekampioenskappe en streekkompetisies oorheers.
As vlak 1-swemmer in 2008 het hy agt goue en twee silwer medaljes tydens die nasionale kampioenskap-pe in Kaapstad verower.
In 2010 het hy as vlak 3-swemmer gekwalifiseer en die goue medaljes een na die ander ingeryg.
Hy het na die nasionale kampioenskappe in Port Elizabeth in 2012 nege goue-, een silwer- en twee bronsmedaljes om sy nek gedra. In Augustus 2012 het hy ‘n mylpaal bereik deur aan sy eerste Senior Nasionale Kortbadkampioenskappe in Pietermaritzburg deel te neem.
Op slegs 14-jarige ouderdom het hy sy staal gewys en in twee finale- en een semifinale ronde geswem en twee agtste plekke teen die land se beste seniormans behaal.
In November 2012 het Ude weer naam gemaak tydens die Limpopo Swemkampioenskappe en 14 goue medaljes verower. Hy het ook agt rekords opgestel.
In 2013 het hy vyf goue-, twee silwer en een bronsmedalje tydens die nasionale kampioenskappe in Durban verower en die 200 m-vlinderslagrekord in die 14-jarige ouderdomsgroep met twee sekondes verbeter.
Verlede jaar het Ude ‘n skouerbesering opgedoen, maar steeds een silwer- en een bronsmedalje tydens die nasionale kampioenskappe gewen. Hy het ook in al ses die swemstyle tydens die skolekampioenskappe in Desember gewen en is as Victor Ludorum-swemmer gekroon.
Vanjaar hang daar reeds verskeie medaljes in sy trofeëkas en hy spog met 58 goue-, 23 silwer- en nege bronsmedaljes wat hy sedert 2008 slegs tydens die Sasol Nasionale Winterswemkanpioenskappe ingepalm het.
“Ek geniet elke oomblik in die water en neem alle raad van my afrigter, Douggie Eagar ter harte en oefen hard. Ek oefen daagliks en swem minstens 10 km per dag,” het Ude die sleutel tot sy sukses verduidelik.
Hy reken dat ‘n goeie swemmer hard werk om sy doelwit te bereik, uithouvermoë het en hoë konsentrasievlakke handhaaf.
Sy droom is om deel van die Olimpiese span te wees en wil graag in Eagar se voetspore volg en ‘n suksesvolle afrigter word.