full screen background image
Zandré Hattingh spog met die trofee as Krieketspeler van die Jaar. Hy is ook as Hokkieseun- en Tennisspeler van die Jaar aangewys.

Suidskool se sportster, Zandré Hattingh ryg toptoekennings in

740

Hy erken sport was vir hom die lekkerste deel van sy laerskoolloopbaan en sy prestasies in verskeie sportkodes het onderwysers van Pietersburg Laerskool met geen ander keuse gelaat as om Zandré Hattingh se naam agter van die toptoekennings tydens die jaarlikse prysuitdeling te skryf nie.
Dié graad 7-leerder loop oor van opgewondenheid en reken hy het sy beste gegee en alles gedoen wat hy moontlik kon om van sy laerskoolloopbaan ‘n sukses te maak.
Zandré is pas as Sportseun van die Jaar, Krieketspeler van die Jaar en Tennisseun van die Jaar aangewys en is verder vereer nadat hy provinsiale kleure in hokkie, krieket en 15-tal rugby verwerf het. Hy was ook deel van die eerstespan wat as liga- en Limpopowenners uit vanjaar se stryd getree het.
Zandré se uitnemendheid is vroeg reeds raakgesien en hy is vir die afgelope drie jaar in die skool se eerste tennisspan ingesluit en is vanjaar as die toptennispeler in die skool aangewys.
In hokkie draf hy ook die afgelope drie jaar vir die eerstespan uit en sluit dit op ‘n hoë noot as spankaptein af. Hy het verlede jaar (o.12) en vanjaar (o.13B)-Limpopo-kleure verwerf.
Op die rugbyveld het Zandré vanjaar vir die tweede agtereenvolgende jaar vir die eerstespan uitgedraf en behaal Limpopo-kleure in 15-tal rugby.
Krieket is sy gunstelingsport en hy droom om homself as krieketspeler te vestig. Hy was die afgelope twee jaar lid van die eerstespan wat vanjaar as Limpopo-naaswenners aangewys is. Hy ontvang ook Limpopo-kleure en gaan van 10 tot 14 Desember in Klerksdorp toer.
“Ek sien baie uit na die toer alhoe­wel die senuwees ook maar knaag omdat ons uitdagende en moeilike wedstryde gaan speel en die standaard baie hoog is,” sê Zandré.
Wanneer hy volgende jaar by Hoërskool Pietersburg (PHS) aansluit gaan hy as groentjie sommer vinnig sy staal moet wys as hy as lid van die o.15-span aan die jaarlikse Finsbury-reeks wil deelneem.
“Ek sien baie uit daarna om PHS toe te gaan. Dit is ‘n goeie skool en ek kan sommer met die intrapslag my passie op die krieketveld uitleef,” meen Zandré.
Sy droom is om eendag vir Pieties se eerste krieket- en rugbyspan te speel en om hoogtes te bereik waar keurders hom kan raaksien om sy groot droom as professionele krieketspeler te kan verwesenlik.
Zandré sê hy is ‘n beter kolwer as bouler en sy beste lopietal vir vanjaar was 59.
“Ek hou van al die ander sportsoorte, maar krieket bly my gunsteling. Die spanwerk en samehorigheid onder krieketspe­lers is onbeskryflik. Fiksheid en hand-oog-koördinasie speel ‘n baie groot rol in jou sukses as krieketspeler. Dit verg ook uithouvermoë omdat dit lang ure in die bloedige son kan beteken en jy steeds gefokus moet bly,” sê Zandré.
Sy rolmodel is voormalige Protea-krieketspeler, AB de Villiers en op die rugbyveld wil hy graag in Springbokspeler, Malcolm Marx se voetspore volg.
Sy raad aan ander sportseuns en -meisies is om nooit op te hou oefen nie. “Oefen elke dag as jy moet en sukses sal vanself kom.”

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com