Weldoeners se donasies verlaat provinsie


Mariétte Snyder
Haweloses wat op straat bedel, het die afgelope twee weke soos paddastoele in die stad verrys en het plaaslike inwoners die josie in.
Onder die klagtes van die gemeenskap is ‘n eienaar van ‘n vulstasie, wat anoniem wil bly, wat sê sy kliënte is boos oor die manier waarop hulle behandel word as hulle besluit om nie vir dié haweloses geld in die hand te stop nie. 
Polokwane Observer het ondersoek ingestel en verneem dat ongeveer sewe van dié bedelaars van Hermanstad aan die buitewyke van Pretoria afkomstig is. Hulle vorm glo deel van ‘n span wat die land vol toer om fondse vir hul sentrum, Growing Wise Homeless Centre in te samel.
Me Antoinette Merley, direkteur van die sentrum wat volgens haar ‘n niewinsgewende geregistreerde organisasie is, verleen hulp aan sowat 63 volwassenes en 11 kin-ders. Op die webtuiste van die departement van sosiale ontwikkeling is dié sentrum egter nie geregistreer nie. Merley sê sy was nie daarvan bewus nie en gaan dit met die departement uitklaar. 
Sy sê die inwoners moet in ruil vir ‘n dak oor hul koppe, kos en lopende water, geld insamel om dié huise te onderhou. Hulle verdien kommissie op die fondse wat geïn word en kan só vir hul eie salaris sorg. Mnr Stefan Benade, 24 sê hy samel tussen R300 en R400 per dag in. Hoe meer hy insamel, hoe groter is sy kommissie aan die einde van die maand. Die kommissie wat hy verdien beloop sowat R66 op R220 ingesamel en 40% as hy R330 of meer insamel. 
Mnr Michael Matthews, 25, sê hy bly by die sentrum omdat hy arm mense wil help en geniet wat hy doen, al is die weersomstandighede nie altyd goed nie. Sy ma bly in Pretoria, maar hy kan nie by haar bly nie omdat sy al te veel vir hom gedoen het en dit tyd geword het om op sy eie voete te staan.
‘n 59-jarige inwoner van die sentrum, Peter wat nie sy van bekend wou maak nie, is ook deel van die toerspan. Hy sê hy bly al vir meer as vyf jaar by die sentrum. “Ek was vir ‘n ruk weg toe ek werk op iemand se plaas gekry het,” vertel hy. Dinge het egter skeefgeloop tussen die plaaseienaar en sy vrou en Peter moes noodgedwonge weer sy intrek in die sentrum neem. Hy samel glo sowat R500 per dag in. 
Volgens hulle behandel hulle motoriste goed en stap net aan na die volgende voertuig as hulle nie ‘n donasie ontvang nie. Weldoeners in die stad vra tereg of die donasies eerder aan behoeftiges in die provinsie geskenk moet word en of toegelaat moet word dat haweloses buite die provinsie voordeel trek? Me Dia van Staden, projekkoördineerder van Hulp In Elke Behoefte (Hieb) sê die situasie is net weer ‘n bewys dat die land se inwoners in nood verkeer en hulle na uiterse situasies wend om nie op straat te sit nie. “Daar is egter ‘n baie groot nood in die stad en provinsie. Plaaslike welsynsorga-nisasies gaan gebuk onder druk en hoe meer fondse aan plaaslike behoeftiges kan gaan, hoe beter.” Sy voel dit is beter as die stad se weldoeners hul donasies in die provinsie hou.