
Mariëtte Snyder
Reuse kolwyntjies, geurige tee en goeie geselskap was verlede Woensdag deel van die insiggewende dag toe me Sue Janse van Rensburg, uitvoerende hoof van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) haar kennis oor kankervoorkoming met die stad se vroue as deel van die vereniging se jaarlikse Cuppa for Cansa-projek en Vrouemaand gedeel het.
Die prestige byeenkoms is by Protea Hotel Landmark gehou.
Janse van Rensburg het wenke gedeel oor maniere waarop vroue hul gesinne teen kanker kan beskerm deur leefstylveranderings aan te bring.
Volgens haar is vitamine C noodsaaklik en asperine goed vir bloedsirkulasie wat ook as ‘n gesonde anti-inflammatoriese middel kan dien. "Te veel vitamine A, D, E en K kan nadeling wees," sê sy.
"Wees versigtig met selfone naby kinders omdat radiasie dieper in ‘n kind se skedel dring as by volwassenes. Kinders moet eerder die selfoon se luidspreker gebruik. Nog ‘n kopseer vir ouers is bababottels en die gevare wat die verkeerde produk inhou. Ouers moet kyk na die driehoek wat onder op die bottel aangebring is. Dit dui dan of die produk aan die nodige standaarde en vereistes voldoen," waarsku Janse van Rensburg.
Volgens haar kan ouers wat in die huis rook die oorsaak wees van kinders wat ‘n wiegiedood sterf. "Rook om kinders in enige situasie is onaanvaarbaar," sê sy.
"Wees versigtig in die son, eet genoeg vrugte en groente en verseker daarmee ‘n lang en gesonde lewe," sluit Janse van Rensburg af.
Volgens me Sonja Randall van Absa, organiseerder van die dag, het die stad se vroue meer as net ‘n maand nodig om bederf te word en sien hulle uit na die res van Augustus se vrouebederf.


