
Danél Esterhuysen Twee gewapende mans het na bewering Vrydagoggend onder valse voorwendsels ‘n huis in Steynstraat, Eduanpark, binne gegaan, ‘n vrou verkrag en talle goedere gesteel. Volgens inligting het die verdagtes omstreeks 10:00 die huis binnegekom nadat hulle die klokkie by die hek gelui het. ‘n Werker het glo een van die mans herken as die loodgieter wat die vorige dag werk in die huis gedoen het. Volgens kapt Mohlaka Mashiane van die Polokwane Polisie het die twee mans die vrou oorval toe sy die deur oopgemaak het. Hulle het haar na bewering aangerand en een van die verdagtes het haar verkrag, terwyl die ander die huis vir waardevolle besittings deursoek het. Hulle het gevolglik talle elektriese ware gesteel en te voet gevlug waarna die polisie geskakel is. By ondersoek is vasgestel dat een van die verdagtes, mnr Freddy Mokoena, ‘n geregistreerde loodgieter in die stad is. Hy is die naweek deur die polisie vasgetrek en het Maandag in die Polokwane-landdroshof voor landdros Janine Ungerer op ‘n klag van verkragting en roof verskyn. Volgens Mashiane is sy borgtogaansoek van die hand gewys en is die saak tot 4 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel. Hy bly in die intussen in aanhouding in die Polokwane-polisieselle. Die tweede verdagte is steeds op vrye voet. Mashiane het ‘n beroep op die publiek gedoen om werkers in te lig om die deur vir niemand oop te maak voor hulle nie die persoon se identiteit met hul werkgewers bevestig het nie.

