|
|
Submitted by admin on 4 March, 2010 - 10:38
|
Laurika Rauch sing mos: “Vergeet om te vergeet, onthou om te onthou om my te onthou.”
My moeilikheid deesdae: ek onthou om te vergeet en vergeet om te onthou en voor jy kan sê “Alzheimer’s Light” lê die lysie met al die onthougoed vergete op die kombuistafel.
Dit raak erg. Ek en my vriendin speel raai-raai speletjies met hope leidrade omdat ek nie meer name kan onthou nie.
“Onthou jy die ou wat gespeel het in daai storie oor St Helena, die een van die voëls?” Sy’s gelukkig skerp: “Arende.”
“Wel, daai ou wat die held gespeel het. Hy het mos in die Boet en Swaer-advertensie ook gespeel. Hulle het nou ‘n orkes begin. Radio Karoo.”
“Radio Kalahari.”
“Ja, dis hy. Nou die man lyk nes daai ou, maar dis nie hy nie.”
En so gaan ons aan. Ek kla by ‘n slim man. Hy skryf dit toe aan te veel rommel in die brein: oorlading. Dit klink in alle geval beter as die ouderdom. Dis mos net mense onder 29 wat sulke dinge sê. Dit kan nie nou al die ouderdom wees nie, want as ek helfte meer goed vergeet as ek die dag 70 is, het ek groot moeilikheid. Sonder grappies!
“Dis ‘n teken van hoë intelligensie,” meen ‘n vrou wat nou die dag met effens opgeligte wenkbroue kyk hoe ek deur die chaos op my lessenaar na ‘n faktuur soek. Dis nou ‘n handige verskoning, net jammer niemand sal dit glo nie.
Ek hoor hulle beweer dat vroue se breine in die laaste drie maande van swangerskap krimp. Vra enige ma, dis beslis waar. Dit voel in ‘n stadium of daar kapokaartappels tussen jou ore sit. Na bewering herstel jy weer ‘n jaar na die geboorte. Die liewe Vader het seker gemeen geen mens met al hul varkies op hok sal kan aanhou koer oor ‘n huilende, suigende, doekverbruikende, burpende, spugende bondeltjie weerloosheid nie. Daarom verminder Hy die breinkrag en vermeerder die hormone.
Ek wonder nou net, as mens te veel kinders te vinnig na mekaar het, of jou brein ooit kans kry om te herstel en of daar nie dalk permanente skade is nie.
Want ek was nie altyd so nie. Regtig nie! Ek kon Raka uit my kop opsê, presies onthou waar in die geskiedenisboek hoesenaam se oorlog van 1830 opgeskryf is en enige telefoonnommer, naam of formule na net een herhaling onthou.
Hulle sê hoe ouer mense word, hoe minder onthou hulle van onlangse gebeure en hoe meer onthou hulle van lank, lank gelede. Nog ‘n rede waarom my moeilikheid nie ouderdom kan wees nie. Ek vergeet sonder diskriminasie die hele spul. Ek kan nie meer as drie van my matriekmaats se name onthou nie, amper net een onnie, glad nie meer die graad een juffrou vir wie ek so lief was nie. Ek kom nou die dag in die dorp waar ek my tienerjare deurgebring het. En verdwaal op die pad wat ek ‘n miljoen keer met die fiets gery het.
‘n Mens se brein is ‘n interessante stoorkabinet. Want daar is tog dinge wat ek in kleur en reuk in die fynste detail kan oproep: my ouma wat Ponds-nagroom in haar gesig invryf, turksvye op my oom se plaas, spookasem by die kafeetjie met die Amerikaanse vlag in die venster op Durban se strand, die bure se kolliehond met haar sagte hare en lang koel tong.
Dit laat mens wonder watter herinneringe jy besig is om in ander se lewens te laat. Wat is dit wat jou man van jou onthou? Of jou kinders? Wat sal hulle klanke, smake, reuke en gevoelens oor dertig, veertig jaar wees?
En wie is ons eintlik anders as die soet
|
|