Onthou bietjie, dis Sondag Valentynsdag!
Dis ‘n groot opwinding by die jongetjies, die gegiggel het al laas week in my huis begin. Maar uit ondervinding weet ek dit beteken niks vir ou getroudes nie, veral vir die manne nie. Maar laat ek julle nou gratis en verniet advies gee: probeer ‘n bietjie iets spesiaals. Dit hoef nie ‘n rit op die "Love boat" te wees nie, ook nie ‘n diamantring in die vorm van ‘n hart nie. Afhangende van jou geliefde en sy of haar voorkeure en geite, kan dit maar ietsie kleins wees. En as jy iemand is wat nooit val vir die kapitalisme-versoeking nie, sal die gedagte ‘n groot impak hê.
‘n Spesiale ontbyt, spek en eiers of vars vrugte en koffie, met gevoel bedien, kan vir baie lank goeie resultate lewer. Want wie jy ook al is, elkeen van ons hou daarvan om te hoor ons is spesiaal en iemand het ons lief!
Ek weet net nie hoe doen ons president dit nie! Kan jy dink hoeveel kos Valentynsdag hom? Onthou, dis nie net gades nie, maar ook almal wat hy nog wil beïndruk! Heel waarskynlik steur hy hom nie aan sulke dinge soos Vaaltyn se dag nie. Maar wie weet, die poppies wat hy in die oog het, sal waarskynlik nog sy beste voetjie voorgesit sien. Die president het immers erken dat hy en me Khoza, moeder van sy jongste, in ‘n verhouding betrokke is.
Snaaks genoeg, met al die media-aandag, het niemand nog mevroue Zuma vir hul kommentaar gevra nie. Selfs al is hulle engele onder vroue, weet ek nie hoe dit moet voel om een van vele te wees en dan te hoor en sien, selfs díit is nie genoeg, voldoende of bevredigend nie.
Ek hoor die president is gevra om te praat by ‘n konferensie oor poligamie in die buiteland. Ek dink dis ‘n uitstekende keuse siende dat hy duidelik ‘n kundige is op die gebied. En alhoewel die opposisie gevra het dat hy moet dalk dieselfde kliniek as Tiger Woods besoek, word seksverslawing skynbaar nie as ‘n probleem in die veelwywery-kultuur beskou nie.
Ek is ‘n groot ondersteuner van respekte vir ander se gelowe en gebruike, maar selfs die liberaalste onder ons moet erken, daar is ‘n verskil tussen veelwywery en losbandigheid! Of miskien glo party van ons eenvoudig ons is verhewe bo alle wette, landswette of sosiale wette.
Want of jy nou in Vaaltyn glo of nie, Valentynsdag bly ‘n herinnering dat die mens gemaak is om van liefde te leef. Ons is nie bedoel om alleen te wees nie. Elkeen van ons moet een of ander tyd iemand liefhê, want deur liefde te ervaar en veral te gee, word ons voltooi. Dikwels hou dit nie vir ewig nie, maar dit moet troos dat jy dit ten minste een keer geproe het.
En as jy nog wonder hoe dit voel, of wonder of jy dit nog het, gryp die kans met albei hande aan. Dis Valentynsdag en ons moet die liefde vier. Elkeen op sy unieke manier.
Ek is seker my man is bly hy hoef net een me Golden gelukkig te hou. Dis al klaar ‘n voltydse opdrag!
Happy Valentine!