Uit die rugbykassie

Braaivleis, rugby, sonneskyn en Chevrolet..
.Dis mos hoe die liedjie gegaan het, in die dae toe ons pa’s nog Chevs kon bekostig het. Baie dinge het in hierdie land verander, sommige goed, sommige te vreeslik om op te noem. Chevrolet het gegaan en teruggekom en nou kan net die boonste lagie van die bevolking ‘n Chev bekostig.
Braaivleis word ook nou so duur dat ons omtrent moet wag vir die Springbokke om ‘n toets te speel woor ons ‘n T-been en ‘n tjoppie op die kole kan gooi. Julle onthou mos darem nog wat ‘n skaaptjop is?
Eintlik moet ek nie eens begin oor die weer nie. Ons het heel winter nog Kaapse weer met nat en koue, iets waarvoor ons die wynlande en die blou berge opgegee het. Ons bly hier juis omdat winters koel en nie ysig is nie en omdat reëndae soel is en vinnig met sonskyn vervang word. Die oulikste ou by die weerburo vertel my dis somerreënvalpatrone wat ons nog so klam gehou het, maar met die koue front wat oor die naweek gearriveer het, is die nattigheid verby. En stiptelik Dinsdagmôre begin Augustusmaand se winde hier waai om Juliemaand se koue behoorlik oor ons uit te sprei. G’n mens sal ‘n behoorlike braaivleisvuur in die weer kan maak nie, nie eens met Bosveld-hardekool nie.
Gelukkig darem tog dat ons die eerste toets teen die Leeus kon wen. Of moet ek liewer sê, genadiglik tog! Na die Proteas my laas week so diep teleurgestel het, sou my swakke hart nie nog ‘n Leeu-oorwinning kon oorleef nie.
Veral nie nou dat ek na al die jare besluit het om uit die rugbykassie te klim nie.
Dis ‘n dapper besluit, soos jy kan dink. Want vandat ek verstand gekry het, weet ek, en al wat vrou in hierdie land is, mos dat rugby, braaivleis en Chevrolet aan die manne behoort.
Sonskyn kon niemand nog van ons wegneem nie, in elk geval tot die velspesialiste en roomsmouse met hul dinge begin het.
En selfs al het baie ander dinge verander, is rugby na al die jare, nog ‘n manneding. Vir jare het ek saam met my pa, my broer, my man en my seun rugby gekyk. Selfs toe rugby van ons gewone sterwelinge se TV-skerms verwyder is, het ek getrou saamgepiekel na rokerige sportskroeë en nie sulke vriendelike vriende se huise.
Maar na die diepe teleurstelling oor die krieket het ek besluit dis tyd om te erken dat ek met of sonder mans, ‘n rugbyfanatikus is. Ek het net besluit genoeg is genoeg en ek kan nie meer wag vir die manne om rugby te kyk nie. Ons had ‘n huis vol mense en talle onderbrekings en inmengings en globale krisisse.
Die vrouens in die geselskap het geskok hul asems ingetrek, die manne het ophou praat en die kinders het begin giggel toe ek sê: "Verskoon my asb, maar ek gaan nou rugby kyk."
Enigeen wat ooit al uit ‘n kas moes klim vir watter rede ookal, sal vir jou kan vertel, dis nie maklik nie. Dis daarom dat ek, breiwerkies in die hand, droë keel (niemand het vir my vloeibare verversings kom aandra nie!) en met benoude hart, die rugby moes oorleef. Ek het amper hartversaking gekry toe ek sien hoe sleutelpare opgemix word, hoe ons sonder ‘n ervare heelagter die veld moes in. En die tannie is mal oor Steyntjie, maar dis nie sy gunsteling posisie nie.
Ek kan vir ure uitbrei oor my amperse angsaanvalle. Maar genadiglik vir my, kon die manne aanhou en uithou. Die wen beteken veel meer as wat engigeen ooit kon raai.
Anders sou ek nooit ook voor jou kon erken nie: dis braaivleis, rugby en sonskyn wat my hart warm laat klop
Op met die Bokke!