Uhuru - Feit of mite?


Danél Estehuysen

 

Massamoord, kinderverkragting, hongersnood, epidemies, skuilingkampe en anargie. Dit is volgens sommiges die voorland van Suid-Afrikaners.

Terwyl die meerderheid mense doodlui-ters aangaan met hul lewens is daar agter die skerms ‘n minderheidsgroep en enkele plaaslike individue wat hul bearbei vir die voortbestaan van die blanke volk wat volgens hulle eersdaags ‘n reuse aanslag van die sogenaamde vyand in die oog staar.

‘n Plaaslike "profeet" en selfaangestelde volksbeskermer het die dae tot Uhuru (die nag van die lang messe) op die sosiale netwerk, youtube afgetel. Eers 50, toe 30 en toe nege en uiteindelik drie dae voor die slagting sou begin. Gereelde video-opnames is gemaak waarin die mense gewaarsku word oor wat sal volg na afloop van die Wêreldbeker-sokkertoernooi, wat hy op sy beurt as ‘n "lokval" beskou. Hy het ook voorspel hoe diere voor die stadionhekke geoffer sou word. Mense van die noorde van Afrika gaan volgens die plaaslike man na Suid-Afrika stroom om blankes te vermoor. Hy meen dié mense is kannibale en satanaanbidders wat deur ‘swart toorkuns’ beheer word.

Die Suidlanders, aangevoer deur hul leier, mnr Gustav Muller meen hul primêre doel is om "die blanke gemeenskap te waarsku teen enige moontlike bedreigings, ‘n nasionale noodplan op te stel en te implementeer, die veiligheid van ‘hul’ mense te fasiliteer in die huidige situasie sowel as in ‘n situasie van anargie of epidemie en om eenheid onder ‘ons mede blankes’ te bevorder."

In ‘n ope gesprek met Polokwane Observer vertel een van die lede van ‘n minderheidsgroep dat R40 miljoen wat vanaf Fifa aan Suid-Afrika gegee is vir die sokkertoernooi ‘weggeraak’ het. Diegene wat tans in besit van die fonds is, is besig om oorlog teen die blanke volk te beplan en almal moet so gou as moontlik uit die stede vlug om die slagting te vermy.

"Na die reuse xenofobiese aanvalle waartydens derduisende buitelanders in Suid-Afrika vermoor gaan word, sal daar toenemende kragonderbrekings wees waarna die krag vir goed sal afgaan. Alle banke gaan sluit en mense sal ook nie meer brandstof by vulstasies kan koop nie. Almal moet dus in die tussentyd soveel moontlik kos, brandstof en kontant opgaar. Die hoeveelheid kontant wat jy het sal bepaal in watter tipe ‘kamp’ jy sal tuisgaan. "By die kamp aangekom, meen die man, lê ‘n lang gewag glo voort waarna die Duitsers vanuit Namibië en die Japannese tot die volk se redding gaan kom vanweë hul beleggings in Suid-Afrika. "Ons sal eerstens die vroue en kinders beveilig. Nooit weer sal dit gebeur dat ‘hulle ons’ sal uitroei omdat hulle ons vroue en kinders het nie," sluit hy die gesprek af.

Verder beweer die persoon, wat anoniem wil bly, dat die ANC Jeugleier, Julius Malema tydens sy besoek aan Zimbabwe mensebloed saam met President Robert Mugabe gedrink en daarna ‘n eed afgelê het om die blanke volk in Suid-Afrika uit te moor. So dreun die waarskuwings voort. Op sosiale netwerke, facebook, youtube, twitter en talle meer word daar daagliks oor die beplande volksmoord gedebatteer – die grondslag meestal die profesieë van Siener van Rensburg.

Die Suidlanders, "Knegte van die Allerhoogste" stel dit egter duidelik op hul webwerf dat "die Suidlanders NIE ‘n verregse, ekstremistiese organisasie is nie. Daar is geen skakels tussen die sogenaamde "Boeremag" en die Suidlanders nie (alhoewel die "Boeremag" aangeklaagdes vry is om hulself Suidlanders te noem)."

Die "Noodplan" van die Suidlanders behels dat mense in die Gauteng-omgewing na ‘n Suidlander-vlugtelingskamp in die Heilbron-omgewing sal gaan. Inwoners in Polokwane sal met talle trokke en sleepwaens in die stad opgelaai word en na plase in die Mogwadi (Dendron)- en Vivo-omgewing vervoer word waar daar reeds infrastruktuur in plek is om duisende blankes teen die vyand te beskerm. Daar is ook kontakbesonderhede op die internet beskikbaar om jou staanplek op een van die plase vooraf te bespreek.

Fondse word van die publiek ingesamel om die oprigting van mediese geriewe, water en ander noodsaaklike hulpmiddels en instandhouding van die veiligheidkampe te finansier.