
Mariëtte van de Werken Die eerste indruk wat jy van me Thea Botha kry is dat die goedversorgde, verfynde vrou alles moontlik uit die lewe wil haal en dit baie goed regkry. Terwyl die meeste mense op haar ouderdom hul aftrede beplan, het dié formidabele vrou haar meestersgraad in Engelse literatuur met vlieënde vaandels verwerf. Botha het haar onderwysdiploma, met musiek as hoofvak, vroeg in haar loopbaan verwerf en het as laerskoolonderwyser vir agt jaar skoolgehou. Sy was huiwerig om later weer die gange van die akademie te bewandel, maar kyk nie vandag terug nie. Na haar man se afsterwe omtrent tien jaar gelede het sy besluit om die boeke weer op te neem. Na baie bloedsweet, trane en lang ure agter die lessenaar het sy die vrugte van haar toewyding gepluk toe sy nie net ‘n BA-graad met sielkunde en Engels as hoofvakke en ‘n honneursgraad in Engelse literatuur agter haar naam kon skryf nie, maar boonop ‘n meestersgraad daarin behaal het. Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) het dit vir haar moontlik gemaak om vanaf haar tweede jaar met ‘n beurs te kon studeer. Die Tshwane Universiteit van Tegnologie in die stad het haar in Desember 2009 genader om kommunikasiekunde en selfbestuur te onderrig waar sy steeds betrokke is. Haar musikale kennis en -vermoëns om dit aan studente oor te dra het meegehelp om haar studente te laat presteer. Botha sê: "Die feit dat ek klassieke kitaar laat in my lewe aangepak het en binne vier jaar van beginner tot Unisa graad 8 gevorder en geslaag het, is een van die hoogtepunte in my lewe." Sy gee steeds onderrig in klavier, klassieke kitaar, klarinet, trompet en teorie. Vyf en twintig van haar studente verskyn op Unisa se ererol en ‘n klarinetstudent het die Hennie Joubert-musiekprys verower. Op verskeie Eisteddfods het haar studente grootgoud, goud en silwer verower. Boonop is sy ‘n topdirigent. Verskeie orkeste en die stad se kamerorkes het aan haar hand geleer en is na hoër hoogtes deur haar gelei. In 1995 is een van haar lewensideale verwesenlik toe sy en haar man hul voete op Engelse bodem kon plaas. Hulle het van ‘n spesiale aanbieding vir ‘n reis na Engeland te hore gekom en op die eerste vlug moontlik bespreek. "Ek wou my lewe lank in Engeland toer en wou in bekende musikante, skrywers en digters se voetspore volg," vertel sy met blink oë. Soos sy dit beskryf is hulle ‘op ‘n skoenveter oorsee’. Hulle het hul maandelikse inkomste gespaar om twee van hul kinders deur universiteit te kry en het om dié rede sonder luukshede klaargekom. Sy vertel van haar reise in die vreemde: "Toe ek vir die eerste keer my voete op Engelse grond sit kon alles om my vergaan. Ons het nie die luuksheid van oornagakkommodasie gehad nie en was tevrede om in die motor te slaap. Hoe meer geld ons gespaar het, hoe meer plekke kon ons sien. Ons was soos kinders wat in ‘n speelpark losgelaat is." In 1996 het hulle weer Engeland besoek. Sy beskryf dit as ‘n hoogtepunt in haar lewe. "Ons het die kerkdiens op Kersdag by die St Paul’s Katedraal bygewoon. Die trane van verwondering het oor ons wange gestroom. Solank as ek leef sal dit my bybly." Intussen het sy Frankryk, Skotland en Wallis besoek en vergeet nie ‘n oomblik van die wonderlike ervarings wat sy beleef het nie. Sy droom steeds groot oor die toekoms en wil nog eendag saam met dolfyne swem en die Switserse Alpe met ‘n trein deurkruis. Eersdaags gaan sy ‘n kursus aanpak om haar Frans op te skerp en sien uit na nog talle reise in die vreemde. "O ja", voeg sy by: "Ek gaan nog ‘n boek ook skryf."

