Terry van Rensburg - stad se goue seun


Danél Esterhuysen
‘n Plaaslike tiener is as ‘n wêreldkampioen bekroon nadat hy vroeg die maand internasionale stoeiers tydens die Junior Statebondspele in Singapoer uitgestof en as die voorste o.17-stoeier bekroon is.
Honderde ondersteuners het die week die nederige toppresteerder, Terry van Rensburg (16) in die stad begroet na sy triomfantlike besoek aan die buiteland. Hy is ‘n lid van die Ion Baciu Stoeiklub wie se blink loopbaan sowat nege jaar gelede afgeskop het nadat Neels Lourens van die destydse Pietersburg Stoeiklub sy pa, Killy genader het. "My eerste reaksie toe ek van stoei hoor was dat onbeskofte mans my kind met ‘n stoel gaan bykom, maar ek het gou besef dit is ‘n baie professionele en gedissiplineerde sport wat ek vir elke kind kan aanbeveel", vertel Van Rensburg.
Hy het sy twee kinders, Lucius en Terry, toe sewe, by die klub ingeskryf waar Terry onder die wêreldstoeikampioen, Ion Baciu se vlerk geneem is. Baciu is ‘n tyd later tragies in ‘n motorongeluk op pad na die stoeiklub dood waarna die Ion Baciu Stoeiklub ter nage-dagtenis gestig is en waar hy sedertdien deur Jan Roets afgerig word.
Terry vertel trots hoe pa Killy hom daagliks stoeiklub toe neem, gaan haal en naweke rondry om aan toernooie deel te neem.
Sy pad na sukses sluit talle nasionale titels in. Terry is al onder meer as die Grieks-Romeinse styl-en vryestyl nasionale kampioen tydens die Suid-Afrikaanse Stoei Kampioenskap aangewys. Dié merkwaardige vertoning verlede jaar het hom ‘n plek in die Suid-Afrikaanse span, Springbokkleure en deelname aan die Statebondspele in Singapoer besorg.
Die wen van die goue medalje was egter nie kinderspeletjies nie. "Ek het eers teen die Australiese kampioen gestoei waarna ek met die kampioen van die gasheerland kragte gemeet en uiteindelik gewen het. Vreemd genoeg moes ek toe in die finaal teen ‘n mede-Springbok, wat my in die kwalifiserende rondte gewen het, sake uitspook, waarna ek as wenner bekroon is," vertel Terry trots.
Oor sy ervaring in die Ooste, buiten sy kroning as statebondkampioen is hy steeds oorweldig, maar dit is die skoon strate, streng dissipline, medemenslikheid en indrukwekkende geboue wat hom sal bybly.
Hy voeg by dat sy prestasie nie moontlik sou wees sonder die ondersteuning van die Westenburg-gemeenskap, veral mnr Francois Hartlief, sy pa, Killy, broer Lucius en tannies Dinkie en Daisie van Rensburg nie.
Hy vertel passievol van die Jongbloed-fa-milie wat hom onder hul vlerk geneem en soos ‘n kind in die huis geneem het. Sy aangenome familie, soos Terry na hulle verwys, steun hom baie. Hy verwys na Mossie Jongbloed en sy vrou Anette as hy sê: "Ek is in die bevoorregte posisie om twee pa’s, twee ma’s, twee broers en drie sussies te hê waarop ek elke dag kan staatmaak."
Die stad se goue seun droom groot oor die toekoms en vertel hoe hy vanjaar weer na die Springbokspan mik, maar dié keer om vir die Junior Afrika Spele in Egipte te kwalifiseer, as wenner uit te tree en so vir die Junior Olim-piese Spele einde vanjaar te kwalifiseer. "En dan gaan ek wen," voeg hy beslis by.

OUR PRIDE

We are all so proud of Terrys achievements!
 
Not only his, but the achievement of each and every teenager in South Africa. Especially those who make an effort to turn every situation around into positives. Terry has finally proven that not everything and everyone from Westenburg should be viewed in a negative light.

You are a shining beacon of hope to the youths of this province. keep a level head and remain as humble as you are. Continue to be a role model to your peers and older people who might do well just by following in your footsteps.

Love you Lots!

Your Aunt.