Ja, en toe mis ek die "Simply Slim"-bus. ‘n Klomp mense het maer geword, sommer baie en vinnig ook. Selfs ‘n paar vriendinne het die vreeslike pille gesluk en dubbelsyfers verloor.
Ek wou ook graag…
Ek wou ook graag tien kilogram ‘n maand verloor. Ek wou ook graag mense agter my in die Wimpy hoor skinder oor hoe dit moontlik is dat ek so goed lyk. Ek wou ook graag dat vriendinne my eenkant toe roep na kerk en vra: "Wat maak jy?"
Maar toe mis ek die bus geheel en al. Eers het ek nie geglo wat ek hoor nie, toe was ek te arm en nou is dit te laat. Daar is skynbaar geen wondermiddels vir my gegun nie, geen vinnige ontsnaproete en geen kitskuur nie. Nee, in Genesis staan my lot beskryf: "In die sweet van jou aangesig sal jy jou kilo’s verloor." Of so iets.
Ek is van nature ‘n mens wat glo as iets te goed klink om waar te wees, ís dit gewoonlik. Daarom kyk ek die kat gewoonlik goed uit die boom. Ek het nooit geval vir daardie inspui-tings wat glo van perde-whissss gemaak is nie. Ek het nooit plantekstrak of appelasyn gedrink nie. Ek probeer nie eers gemmertee nie!
Ek het eenkeer ge-Bio-slim en een keer ge-shake. Maar sien, ek lyk so goed, want ek eet so goed! Anders as sommige maer mense, hou ek van kos. Ek hou daarvan om daaroor te lees en te dink, spyskaarte uit te werk, aankope te doen in verskeie winkels, te bak, braai, stowe, prut of te rooster, en veral om dit te proe, te lek, te peusel, te knibbel, te hap en te verorber.
Ek luister na mense soos Oprah en Kie wat praat oor emosionele eters: "Ek eet as ek depressief is", "Ek eet omdat ek minderwaardig voel", "Ek eet omdat niemand van my hou nie!"
Ek eet as ek wakker is! Ek hoef nie moeg, depressief, vrolik, bly, verveeld of honger te wees nie. Ek kan enige tyd van die dag of nag eet. Ek is ‘n uitstekende eter!
Ek sou ‘n multimiljoen rand stoetkoei gewees het, met ‘n Gemiddelde Daaglikse Toename (GDT) wat hulle geneties sou wou kloon!
Maar ek is nie ‘n blinkvet Simmentaler-koei nie. Ek is ‘n ma van tieners, ‘n eggenote, ‘n vrou, suster, vriendin en ek wil beslis nie so vet wees soos die klere wat in my kas hang nie!
‘n Vriendin van ‘n vriendin kry twintig inspuitings op ‘n slag in haar dikste dele en verloor sommer oornag 46 cm. Nog een klim drie maal ‘n dag op haar eie skudmasjien en het al 23 kg verloor. Ons skinder oor nog ‘n vriendin wat, so lyk dit, gegaan het vir daardie operasie en nou het sy ‘n R30 000 se plat magie en opkyktieties.
Dit alles klink vir my erger as ‘n maand se Simply Slim-gif.
Maar nou ja, dit sal ek nou nooit weet nie! En daarom moet julle my nou maar verskoon. Ek moet tekkies gaan aantrek en gaan stap. Net jammer ek kan nie sommer in hierdie hitte vet uitsweet nie!
Voorwaarts dapper stryders!