Strukture beïndruk veelsydige Ronelle Knoetze



Mariëtte van de Werken

 

Die suksesvolle raadgewende ingenieur van Aurecon, me Ronelle Knoetze (36) kan met gesag van die wetenskaplike aspekte van strukture praat. Knoetze is die afgelope jaar projek- en ingenieurbestuurder in die mynbou- en industriële sektor van dié suksesvolle onderneming waar sy daagliks daarna streef om loopbaanmylpale te bereik.

Aurecon was die ingenieursfirma wat by die bou van die nuwe Peter Mokaba Stadion betrokke was. Voordat sy ongeveer drie jaar gelede Polokwane haar tuiste gemaak het, het sy in Johannesburg as assistent-ingenieursbestuurder by Sasol gewerk. Na haar matriekjaar het sy haar meerstersgraad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Sy is tans besig met haar tweede meestersgraad in mynbouingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria.

Op die vraag hoekom ingenieurswese, antwoord sy: "Ek het die kreatiewe- en wetenskaplike aspekte van strukture wat bymekaar gebring moet word, nog altyd interessant gevind."

Volgens haar is sy suksesvol en prestasiegedrewe omdat haar ouers haar sedert ‘n jong ouderdom aan opvoedkundige speelgoed blootgestel het en sy hulle deur haar hele skoolloopbaan met alles wou beïndruk. Sy vertel: "Ek kon op nege maande loop en op 18 maande kon ek woorde in ‘n boek herken. Op drie kon ek lees, skryf en somme maak."

Haar ander groot passie is musiek. Haar ma het haar van driejarige ouderdom af klavierlesse laat neem. Op vyf het sy begin viool speel.

Knoetze het haar graad 8-Unisa-klaviereksamen verwerf en spog ook met ‘n graad 7-kwalifikasie in viool. ‘n Groot gedeelde van haar skoolloopbaan het sy in die Oos-Randse Jeugorkes viool gespeel. Vir ontspanning luister sy na klassieke musiek, lees of speel gholf saam met haar man. Met blink oë vertel sy van haar droom om dalk nog eendag medies te studeer. "Ek wil graag ingenieursbeginsels en die mediese praktyk bymekaar bring deur op biomediese ingenieurs-wese te fokus."

Intussen bepaal sy haar by haar meestersgraadstudies en nuwe mynbougeleenthede in die provinsie. En sy wil ‘n rol in Aurecon se beplanning, ontwerp en bestuur van oopgroefmyne speel.

Haar doktorsgraad in siviele ingenieurs-wese het sy eers tydelik op die ys geplaas omdat haar navorsing op die staalindustrie gerig was en sy eerder haar loopbaan in mynbou-ingenieurswese wou vestig.