
Mariëtte van de Werken Divan Retief (17) is die Hoërskool Pietersburg se gedugte eerste span-skrumskakel wat in September as deel van die Bokkiespan na die Britse Eilande toer. Retief het vanjaar vir die Wil-deklawer Superskole-uitnodigingspan op die veld uitgedraf. Die span is hoofsaaklik uit spelers van Gauteng en Limpopo saamgestel. Hy is een van twee spelers van PHS wat gekies is. Altesaam 16 spanne het aan dié reuse toernooi deelgeneem. Een van die prestasies waarop hy baie trots is, is sy insluiting in die o.19-Afrikaanse Sportvereniging (AVS) se Suid-Afrikaanse-bokkiespan wat in September na die Britse Eilande toer en deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) erken word. Tydens dié week is hy as Agterspeler en Speler van die Wedstryd aangewys. Dié jongman het reeds ‘n rits prestasies op die sportveld waarop hy trots kan terugkyk. Op laerskool was hy ‘n kranige krieketspeler wat as paaltjiewagter en openingskolwer vir Laerskool Pietersburg-Oos sy staal getoon het. In 2006 en 2007 het hy provinsiale kleure in tuimel verwerf. Op hoërskool moes hy egter begin spesialiseer en sy keuse het op rugby geval. Hy vertel trots van sy rugbyprestasies,: "In 2008 was ek deel van PHS se o.19-rugbyspan wat die sewes-toernooi in Phalaborwa gewen het. In 2009 het ek in die o.16-rugbyspan provinsiale kleure verwerf en aan die Grand Khomo-week in Riversdal deelgeneem." Hy het reeds talle aanbiedinge van skole uit ander provinsies ontvang met sy skitterspel op die rugbyveld. Naweke wanneer hy nie die skool verteenwoordig nie, draf hy op die veld vir die polisie-rugbyspan waar hy sy plek as skrumskakel volstaan. Hy glo sy liefde vir rugby kom van sy pa, mnr Deon Retief wat jare vir die polisie-rugbyspan uitgedraf het en laerskool- en hoërskoolspelers afrig. Sy besige skedule laat nie veel tyd vir sosiale bedrywighede toe nie. Na skool gaan hy gimnasium toe vir ‘n uur waarna hy en sy pa rugbyveld toe gaan vir oefening. Daarna moet hy sy aandag by sy skoolwerk bepaal. "Eksamentyd gaan dit bietjie moeilik. Ek wil nie my sport of akademie af-skeep nie," vertel hy. Naweke, wanneer hy nie rugby speel nie, kuier hy en sy ouers by hul vakansiehuis in Haenertsburg waar hy vir ure op sy vierwielmotorfiets of op waterski’s deurbring. Hy is ook versot op boogjag en hou daarvan om saam met sy pa vis te vang. Met blink oë vertel hy dat hy eendag skrumskakel vir die Blou Bulle wil speel: "Dit is my grootste wens om eendag vir die Bulle op die veld te draf. Ek werk hard aan my droom." Sy lewensuitkyk is eenvoudig en op die man af: "Ek glo dat elke dag nuwe uitdagings bied, daarom moet mens voluit leef." Divan Retief, eerste span-skrumskakel van die Hoërskool Pietersburg is gekies vir die o.19-Afrikaanse Sportvereniging (AVS) se Suid-Afrikaanse-bokkiespan wat in September na die Britse Eilande toer.
Foto: Mariëtte van de Werken


