Ek is vanoggend tegelyk dankbaar en ongelukkig. Op my wasgoeddraad wapper skoon la-kens, handdoeke en lappies van alle soorte. My dakwaaiers is skoongeskrop (sal seker nooit weer sag waai nie!), my toilette is gestaalwol (weet nie of daar nog enamel op is nie), blikke, botteltjies en potrette is gestof, gewas en gelug (hoop maar die helfte besluit nie om te roes nie). Jy kan met ‘n wit handskoen bo-op my deurkosyne inspeksie doen. Ek is van die nuutgeverfde voorhekkie tot by die binnekant van die asblik-deksel gereed vir inspeksie!
Ja, julle het reggeraai, ek verwag skoonfamilie. Skoonsus sou kom kuier. Omdat sy nie alleen wou ry nie, sou my liewe skoonmoeder ook saamkom. Ek het net vier dae kennis gekry en moes alles laat staan. Kinders is uit hul vakansiesones geruk. Ekstra hulp is ingehuur om die tuin reg te ruk en ons het ons bes gedoen! Toe ek later terloops SMS om te hoor hoe laat hulle kom, laat weet skoonsus ewe terloops dat hulle nie meer kan kom nie.
Nadat die verligting eers oor my spoel, begin ek wonder oor bedagsaamheid. Genadig het ek nie reeds my maand se kruideniersbegroting op die naweek se kos geblaas nie!
Nou sit ek hier en dink aan hoeveel keer mens onbedagsaam met ander is. En omdat dit onbe-dag is, dink jy mos nie daaraan nie en weet jy dit nie eens nie. Dis ‘n kwessie van respek. ‘n Ruk terug het iemand my voor ‘n kennis as "moeilik" bestempel omdat ek omgekrap was oor iemand nie ‘n afspraak nagekom het nie. Dit was eenvoudig vir my ‘n bewys dat my tyd vir die ander persoon minder werd is as hul eie.
Dis so maklik om iemand anders rondom jou gou te stuur, veral kinders. Ek glo kinders moet leer werk en leer diensbaar wees. Maar wat ‘n mens elke keer sê, is: "Ek dink dit waarmee jy besig is, is minder belangrik as dit waarmee ek besig is. Daarom kan ek jou vra om jou taak te los en iets vir my te doen."
As jy Vrydagoggend ‘n afspraak met God het, sal jy vroeg opstaan en jouself gereed maak. Net so sal jy sorg dat jy betyds is as die afspraak met ‘n belangrike persoon is. Die groot toets is of jy ook so voorberei as jy ‘n gelyke of selfs ‘n mindere moet ontmoet. As jy ‘ja’ kan antwoord, is jy ‘n bedagsame persoon. As jy laat is om kinders by die skool op te laai of om met ‘n werker oor iets te gesels, is jy nie. Die boodskap word al hoe erger: ‘Dit waarmee ek besig is, is belangriker as jy!’
Empatie, anders as simpatie, is die vermoë om jouself in ‘n ander se skoene te plaas. Dis wat jou ma bedoel het toe sy jou gevra het: "Hoe sal jy voel as iemand so met jou maak?" Die definisie van ‘n sosiopaat is, onder andere dat hulle nie in staat is tot empatie nie. Dit laat mens dink. Hoeveel van ons is nog in staat tot empatie en dink werklik daaraan hoe ander voel. Die manier waarop jy teenoor ander optree, hang direk af van die mate van respek wat jy vir hulle het. Ek glo jou moet jou altyd gedra asof jou ma oor jou skouer loer, dan sal jy sal uit baie moeilikheid bly!
Dis ook snaaks hoeveel beter mens voel wanneer iemand jou met respek behandel. Die warm gevoel sprei oor jou en maak jou meer geneë om dit aan te gee vir ‘n volgende een.
Intussen is enigeen welkom om te kom kuier! Die Goldens is reg vir inspeksie. Moet net nie sprankelende geselskap verwag nie, ons is flou! En dan is daar nog al die ander werk wat ingehaal moet word.