Skok oor moord van Marken-boer

Eben Engelbrecht
Mnr Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het met skok gereageer op die moord op mnr Jan Potgieter (65) van Marken, verlede Woensdag.
Hy het sy medelye betoon aan me Annelie Potgieter, hul gesin en familie en die Koedoesrandgebied se plaaswagte en die SAPD bedank vir hulle vinnig optrede en ondersteuning aan die gesin.
Me Roné Hennop, voorsitter van die Marken Boerevereniging sê die voorval het omstreeks 13:00 gebeur.
Die Potgieters se tuinier het haar en die twee kinders in die rondawel aangeval, in die badkamer toegesluit en geld van hulle geëis.
Met die Potgieter-egpaar se tuiskoms van die dorp het hulle onraad vermoed. Na bewe-ring het me Pot-gieter die opstal binnegegaan terwyl haar man die rondawel deursoek het. Die aanvaller het mnr Potgieter die opstal ingedwing, waar hy hom trompop geskiet het. Me Potgieter het intussen ‘n vuurwapen gaan haal en op die aanvaller gevuur. Hy kon daarin slaag om weg te hardloop.
Die Distriklandbou-unie se kantoor op Baltimore is intussen deur die plaaseienaar van die gebeure in kennis gestel wat onmiddellik die SAPD en die plaaswagte geaktiveer het.
Mnr Japie Spanio, voorsitter van die vei-ligheidskomitee van TLU SA Noord het die gemeenskap geprys vir hulle blitsige optrede. Binne minute was die paaie afgesper.
SAPD was vinnig op die toneel en het ‘n helikopter beskikbaar gestel wat saam met ‘n privaathelikopter ingespan is. Potgieter is op die toneel dood verklaar.
Hennop het haar dank teenoor die plaaswaglede en die SAPD uitgespreek vir hul flinke en professionele optrede. Die SAPD honde-eenheid en plaaswaglede het die aanvaller se spore gevolg, hom kort daarna opgespoor en hegtenis geneem.
Beraders was kort na die voorval op die toneel om die gesin by te staan. Mnr Gerhard Visser, voorsitter van die Koedoesrand DLU, sê dis wonderlik om in ’n gemeenskap te woon waar soveel hulpbronne teen misdaad uit die gemeenskap beskikbaar is en waar mense bereid is om op eie inisiatief in ’n noodgeval op te tree. Hy het elke lid van die gemeenskap wat deelgeneem het, bedank vir hulle bydrae.
Viljoen sê die samewerking tussen boere en die owerhede stuur ‘n duidelike boodskap aan misdadigers dat die georganiseerde landbou in Limpopo gereed is om die gebied te beveilig en daarna streef om goeie verhou-dinge met die SAPD op te bou.
Hy sê Limpopo is nie verniet een van die veiligste provinsies in Suid Afrika nie. Harde werk maak dit moontlik.