Ek hoor ál wat ‘n Duitser is wil calamari eet. Dis nou na die Duitse seekatorakel, Paul, verlede week reg voorspel het dat Spanjé die eindstryd sal haal. Dis skynbaar nie waar dat die waarheid altyd bo-op die water dryf nie! Soms is die waarheid nie ‘n lekker ding nie. Waarhede soos dat daar altyd ‘n wenner en ‘n verloorder moet wees, veral in sport. Ongelukkig vir Duitsland en Nederland, was Paul toe reg tot die bitter einde. Tweede en derde onderskeidelik, met etlike miljoene per speler as prysgeld, is skynbaar nie vir almal ewe opwindend of goed nie. Maar hulle sal maar moet leer om daarmee saam te leef. Almal het seker nie die Deense ondersteuners se kommentaar op hul span se verlies gehoor nie: "Sokker is net ‘n spel en al wat gebeur het, is dat ons span ‘n wedstryd verloor het. Dis nie die einde van die wêreld nie." Seker maklik gepraat, en dalk moet ek my mond hou, want dis net oor die 400 dae na die rugbywêreldbeker toe. Die hart is ‘n ding wat aan hoop verknog is. Maar baie geluk aan Spanje. Dis waar dat dit lekker is om te wen, ek is seker die Spanjaarde sal dit behoorlik kan sê en vier. Nog ‘n verskriklike waarheid is dat tyd geen sentiment of gunstelinge het nie. Dis nou behalwe vir Josua, vir wie die son in Gibeon stilgestaan het op die dag wat die Here na ‘n mens se stem geluister het. Ongelukkig, of gelukkig, is ons nie almal Josua nie. Of wonderlike dinge gebeur of doodsangs oor jou toesak, die tyd tik eenvoudig aan, ongesteurd en onaangeraak. So is die tyd verby en die wêreldbeker iets van die verlede. Ons weet nou of elkeen se hoop verwesenlik is, of dit in gevalle suksesvol was en binnekort sal ons weet presies wat dit ons as land en mense gekos het. (As iemand die moed het om dit te sê!) Met vuvuzela-trompetter wat afneem en uitlanders wat in strepe die land verlaat, moet ons weer gewoond raak aan die alledaagse. En dan het die skool ook weer begin in een van die koudste weke die hele winter. Mense praat baie oor al die positiewe dinge wat moontlik sal bly, soos ‘n gees van nasie-eenheid, beter dienslewering, vriendelike gesigte en wapperende patriotisme. Ons kan almal maar net hoop hiervoor. Dalk sal dit goed wees as ons almal besluit om te werk hiervoor. Dis net dat ek so gewoond geraak het aan vakansiehou en ‘n laer feesrat. Ek wonder of ek ooit weer die koppelaar sal kry om ratte te verander! Ja, die tyd stap aan en dis terug na die werklikheid. En skynbaar wil Paul, die seekat, nie sy dienste uitbrei of in Suid-Afrika kom werk nie. Hy’s doodteverede om Duitse kindertjies te vermaak. Ja, die res van ons sal dit ook seker moet gewoond raak om sonder sokkerkoors aan te gaan met ons lewens. Die tyd staan immers nie stil nie. En dis al weer rugbytyd!
|
|||


