Riette van der Linde help stad se verslaafdes



Mariëtte van de Werken
Me Riette van der Linde is sedert 1992 ‘n bekende naam onder substansiemisbruikers en die hulp wat sy sedert 1992 aan diegene verleen, is onmeetbaar.
Sy is in Polokwane gebore en het in 1992 haar BA- en honneursgraad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Op 1 Desember 1992 aanvaar sy ‘n pos as maatskaplike werker by die Verre Noord Alkohol en Dwelmsentrum (Sanca), leer stadig maar seker van alkohol- en dwelmmisbruik en kyk in
afgryse hoe jonger kinders verslaaf raak aan verbode middels. In 2000 sprei sy haar vlerke en aanvaar ‘n pos by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie waar sy vir twee jaar veldwerk doen.
In 2003 doen sy weer aansoek vir ‘n pos as maatskaplike werker by Sanca en word later bevorder tot direkteur en kantoorhoof waar sy ‘n verskeidenheid insette lewer, onder meer die skryf van leerlingbystandsprogramme en opleiding van maatskaplike werkers. "My wortels is hier. Die sentrum is deel van my bestaan. Ek sit harde werk en lang ure in," vertel sy. "In die jare wat ek deel is van die sentrum het ek baie ge­leer oor die redes waarom mense aan verbode mid­dels en alkohol verslaaf raak. Almal dink dis tieners en haweloses wat hulself oorgee aan dié euwels, maar talle bekende en vooraanstaande mense in die stad raak onskuldig daarby betrokke en voor hul hul oë uitvee is hul te diep betrokke om uit die doodloopstraat te kom," sê sy.
Enigiemand wat by die sentrum aanklop vir hulp word met menslikheid behandel en kan verseker wees van absolute privaatheid. Volgens haar is dit nie ‘n skande om afhanklik van ‘n middel te wees nie en hulp is beskikbaar.
Van der Linde en haar span werk aan twee satellietkantore wat eersdaags hul deure in Musina en Phalaborwa open.
Gevangenisse baat by hul Ahanang-program waar hulle die prisoniers lewensvaardighede leer en help bou aan hul selfbeeld.
Die Polokwane Munisipaliteit
het grond beskikbaar gestel vir hul nuwe kantore wat teen Desember 2011 voltooi sal wees.
"Ek geniet my werk. Daar is soveel suksesstories van individue wat ‘heel’ anderkant uitgekom het. Families word herenig en kwadegevoelens word opsy geskuif. God verrig wonderwerke," vertel sy. "Die gemeenskap moet meer bymekaar betrokke raak en ‘n helpende hand verleen aan iemand wie se afdraande pad vir hom te veel word. Dra hom of haar aan God op. Hy sal voorsien."