Polokwane Observer word deur die bestuur van Savannah Mall beskuldig dat beriggewing oor ‘n onlangse voorval van inbraak en diefstal by twee winkels in die sentrum die ondersoek na die saak in die wiele gery het.
Dit is onverklaarbaar hoe ‘n berig wat die feite uitlig en terselftertyd op so ‘n wyse aangebied is om minimumskade by die lydende partye (die twee winkeleienaars, wat nie deur ons geïdentifiseer is nie) aan te rig, deur die sentrumbestuur as kwaadwillig of moedswillig bestempel word.
Die bestuur was so geaffronteerd deur die voorval en die bekendmaking daarvan in die koerant dat hulle selfs skriftelik by implikasie aangedui het dat ons nie enige verdere besigheid (advertering) van Savannah Mall moet verwag nie.
In die lig van die voorval wil ons graag by Savannah Mall weet:
Wie gee aan julle die reg om mediavryheid in te perk en julself as’t ware as ‘n mediatribunaal aan te stel?
Wie gaan skade lei indien advertering weerhou word? Savannah Mall-bestuur of die winkeleienaars wat hemelhoë pryse vir winkelruimte betaal?
Het julle enigsins ‘n mediabeleid wanneer julle skielik op vrae moet antwoord?
Waarom diskrediteer julle Polo-kwane Observer in ‘n interne skrywe aan die huurders?
Waarom perk julle selfs die huurders se reg in om met die media te praat?
Dit is opvallend dat opposisiekoerante nog nooit voorheen gerapporteer het oor Savannah Mall se gladde vloere waarop menige hul al disnis geval het, oor ‘n ysterbalk wat uit die sentrumplafon geval en byna ‘n man se dood veroorsaak het en oor die jongste voorval van inbraak en diefstal nie.
Maar blaai ons weekliks deur dié koerante belaai met advertensies van Savannah Mall, verstaan ons die werking van sakelui wat op gunste en gawes floreer.
Polokwane Observer sál die publiek inlig, ongeag die monetêre implikasies.
Ons weier om die waarheid te verbloem vir geldelike gewin. Ons weier om die woord "persvryheid" goedkoop te maak. Ons weier om gehoor te gee aan selfaangestelde "mediatribunale".
Ons primêre besigheidsaktiwiteit is inligtingsgenerering en –verspreiding. Dit geld alle inligting, behalwe dié wat deur ‘n konstitusionêle instelling beperk/verbied word.
En wat Savannah se advertensiebesteding by Polokwane Observer betref, dink gerus weer. Ons lesers koop ook by Savannah Mall. Hulle is ook geregtig om van spesiale aanbiedinge en geleenthede te weet.
Julle benadeel nie Polokwane Observer nie, julle benadeel jul eie huurders deur advertensie-inligting van nagenoeg 64 000 potensiële klan-te weekliks te weerhou.