
Danél Esterhuysen
Die jaarlikse interhoër atletiekbyeenkoms het Saterdag het by die Hoërskool Frans du Toit plaasgevind met twee plaaslike skole, die Hoërskool Pietersburg (PHS) en die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé wat puik presteer het.
Die Hoërskool Merensky het met die louere weggestap.
PHS se dogtersatlete het skoonskip gemaak met 442 punte, terwyl die seunspan algeheel derde met 231 punte geëindig het. PHS het algeheel in die tweede plek geëindig met Liesl Scholtz wat as victrix ludorum en beste junior baanatleet aangewys is.
Muller Coetzee is as beste junior baanatleet en Nadine Schutte as beste senior baanatleet aangewys. PHS was ook tweede met die geesbeker en het ‘n medalje vir entoesiasme gekry.
Tommies se seunsatlete het dié jaar hul merk tydens die interhoër gemaak deur in die tweede plek na Hoërskool Merensky te eindig en hul medaljeoes in vergelyking met vorige jare te verdubbel.
Tommies se steratleet, Werner Coetzee, het die trofee vir die beste junior veldatleet met ‘n reuse gooi van 46,78 m in die diskus vir seuns o.15 gewen. Die blits, Kabelo Mphahlele, het die trofee vir beste senior baanatleet met ‘n tyd van 15,3 in die 110 m-hekkies vir seuns o.16 gewen. Die Tommies-sanggroep het ook die prys vir die beste interpretasie van ‘n onbekende lied gewen.

