Noordelikes wen rillerstryd


Warren Blunt - Pietersburg Noordelike Rugbyklub het aan hul ondersteuners ‘n paar benoude oomblikke besorg in hulle naelbyt Gilbert Super 16-kragmeting teen Vereeniging Saterdag in Ladanna. Die tuisspan het uiteindelik met ‘n skrale punt teen die moedige besoe-kers geseëvier toe die eindfluitjie blaas en vier drieë gedruk is om met 30-29 te wen en beklee tans die tweede plek op die ligaleer na die naweek se wedstryde. Zander Byleveldt, Mynhardt Smit, Johan de Beer en Charl Liversage het elkeen ‘n drie gedruk. De Beer was ook suksevol met twee doelskoppe en ‘n strafskop terwyl Byleveldt ook met ‘n strafdoel geslaag het. Noordelikes se derde span het hulle tweede sege in vanjaar se kompetisie behaal en vier drieë gedruk in hulle oorwinning van 26-8 teen die besoekers. Die drieë is gedruk deur Corné van Geyn, Daniel Kaletsana, Wighardt Brummer en Stefan Nel. Nel het ook twee strafdoele bygevoeg. Die derde span is tans bo aan die liga en ‘n oorwinning Saterdag teen die Silver Valke in Pretoria sal verseker dat die span in die halfeindstryd sal meeding. Vroeër die middag het die o.21- en tweede span met 13-20 en 15-35 onderskeidelik teen Vereeniging verloor.