
Warren Blunt Dit was drie uit drie vir BB Truck & Tractor Noordelikes Rugbyklub toe al hul spanne Saterdag goeie oorwinnings behaal het in die halfeindstryd van die Boet Fick Superliga. Noordelikes se eerste span het ‘n welverdiende sege van 30-15 teen Louis Trichardt behaal. Johan de Beer, Charl Liversage en Jaco Strydom het vir die drieë gesorg en Zander Byleveldt het drie doelskoppe en drie strafskoppe bygevoeg. Letaba Rugbyklub is Noordelikes se teenstanders in die eindstryd na hulle in die doodsnikke van hul wedstryd teen Alpha Sand Pietersburg met ‘n strafskop geslaag het om met 26-23 te wen. Letaba se tweede span het Pietersburg 24-15 geklop en kom teen Noordelikes te staan in die finaal na hul 22-12 sege teen Levubu. Noordelikes se drieë is deur Zach Nel, Koning Jansen van Rensburg en Grassie Nel gedruk. Freddie Honiball het twee van die drieë verdoel en ook met ‘n straf-skop geslaag. Noordelikes se derde span het Pietersburg met 45-3 vermorsel om te sorg dat die Dorp vir die eerste keer in baie jare nie in die eindstryd sal wees nie. Diederik Brits (2), Kobus de Meyer, Neil Grobler, Koning Jansen van Rensburg, Shane Engelbrecht en Danie van Staden het Noordelikes se drieë aangeteken. Van Staden het vyf van die drieë verdoel. Louis Trichardt Rugbyklub sal kragte teen Noordelikes meet in die eindstryd van die derde liga nadat hulle Saterdag 13 -3 met Letaba afgereken het. Die finaal van die Boet Fick Superliga sal Saterdag 26 Julie op BB Truck & Tractor Noordelikes se rugbyveld in Ladanna plaasvind. Toegang is R10 per voertuig en verversings sal te koop wees. Saterdag se program is: 13:00 Noordelikes 3 teen Louis Trichardt 3, 14:30 Noordelikes 2 teen Letaba 2 en 16:00- Noordelikes 1 teen Letaba 1.


