
Warren Blunt
Theyman Jongbloed het drie pragdrieë gedruk om Pietersburg Noordelikes Rugbyklub te help om 30-30 gelykop teen Rustenburg te laat eindig in hulle eerste Gilbert Super 16-wedstryd van die 2010-rugbyseisoen.
Noordelikes het ‘n goeie vertoning gelewer teen ‘n sterk Rustenburg-span wat lus was om met die bal te hardloop. Die groot skare in Ladanna het gesien hoe Noordelikes terug veg nadat hulle vroeg in die wedstryd 0-7 agter was. Dampies van der Merwe het Noordelikes se vierde drie gedruk vir ‘n bonuspunt. Johan de Beer het met sy skopvoet met twee strafskoppe en twee doelskoppe geslaag.
Vroeër die middag het Noordelikes se derde span die enigste oorwinning van die dag behaal met ‘n 15-11 sege teen die besoekers. In die eerste wedstryd van die dag het Noordelikes se o.19-span, bestaande uit spelers van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se eerste span met 12-52 verloor. Die tuisspan se o.21-span het naelskraaps verloor met 7-12 en Noordelikes se tweede span is met 0-59 deur Rustenburg verskeur.
Noordelikes het nog ‘n tuiswedstryd Saterdag (27 Februarie) teen Vereeniging in die tweede rondte van die Super 16-kompetisie. Spel begin om 14:00. Toegang is slegs R10 per voertuig. Etes en verversings is beskikbaar by Aloe Sports Bar.

