
Elna Esterhuysen
Hoewel me Lizelle de Bruin se brood en botter kosbare gekunstelde stene en bling is, is sy onopgesmuk en is haar man, drie kinders en kleinseun haar grootste vreugde.
De Bruin, eienaar van D’Amore, gesogde juweel- en geskenkwinkel in die stad, is ‘n gedugte sake-vrou wat haar onderneming met toewyding, harde werk en hope inisiatief bestuur en steeds uitbrei.
Sy is ook ‘n gerekende atleet wat die Comrades sewe keer voltooi het en met twee Bill Rowan-medaljes (sub 09:00) kan spog, al die Argus fietswedren voltooi het en daagliks ‘n strawwe oefenroetine volg.
Haar suksesverhaal het vyf jaar gelede as agent van Miglio-juweliers-ware begin. De Bruin was drie jaar een van die toptien-agente landwyd en een jaar deel van die topdrie.
Die opening van D’Amore in die Thornhill Centre sowat anderhalf jaar gelede was ‘n vanselfspre-kende volgende loopbaanskuif vorentoe.
Sy en haar prokureurman, Michiel is lief vir kamp en geniet veral die natuurlewe in Botswana. Haar twee dogters is haar grootste vriendinne en haar seun, ‘n professionele jagter, het ma en pa se perfeksionisme geërf.
Gesinskuiers is hoog op haar prioriteitslys, so ook reis, lees en musiek. Respek vir ander mense is vir De Bruin ononderhandelbaar. Ook netheid, stiptelikheid en ‘n positiewe ingesteldheid.
Sukses lê vir haar opgesluit in harde werk. "Bly gefokus, leef jou drome, waag soms en spaar baie."
Hoewel De Bruin groot opofferinge in belang van haar besigheid maak, bly haar gesin se geluk haar eerste prioriteit.

