Modjadjituiste vir een van vyf grootste kremetarte in SA


Yolande Nel - Een van die vyf grootste gemete kremetartbome in Suid-Afrika wat die Modjadji-omgewing sy tuiste gemaak het, het die passie geword van ‘n plaaslike handelaar wat hom vir die beskerming van dié woudreus bearbei. Mnr Flip Wessels vertel dat hy die boom by Ga-Ratjeke in die Modjadji-omgewing ontdek het. Só het ‘n opdraende stryd van vier jaar begin om belangstelling te kweek om die boom die regmatige erkenning te laat kry. Einde November verlede jaar het mnr Izak van der Merwe, van die Departement van Waterwese en Bosbou en koördineerder van die Kampioenboom-projek, die boom laat meet. Dit is terselfdertyd deur emeritus-professor Brian Bredenkamp van die fakulteit Bosbou van die Universiteit van Stellenbosch geëvalueer om as een van nasionale belang gelys te word. Die kremetartboom se hoogte word aangegee as 23,5 m. Die stamomtrek word onderskeidelik as 24,15 m, 7,85 m circ en 2,14 m circ aangedui omdat die boom volgens inligting op borshoogte in drie verdeel. Die kroonwydte is op 34,4 m en 30,8 m gemeet en die grootte-indeks is as 382 geklassifiseer. Van der Merwe het om die beurt daarop gedui dat die hoogste bome in Afrika in Woodbush Staatsbos in die Magoebaskloof-omgewing aangetref word. Met die hulp van boomklimmers is ‘n Eucalyptus saligna met ‘n hoogte van tot 79 m gemeet, het hy bygevoeg. Wessels het ten slotte genoem dat hy van plan is om onder meer die omliggende gemeenskap te betrek in die beskerming van die boom. Daarbenewens sal hy ook wil sien dat inligtingsborde die pad na die kremetartboom aanwys en ‘n beskermende staalkonstruksie opgerig word. Sy kontaknommer is 082 446 4983.