Man betrap terwyl hy verkrag


Danél Esterhuysen

 

Die polisie het Saterdagaand ‘n 30-jarige man op heterdaad betrap terwyl hy besig was om ‘n 15-jarige meisie in Ladanna te verkrag.

Volgens inligting het ‘n voetganger in Spoorwegstraat gesien hoe die verdagte, mnr Themba Ndlomi (30) die skoolmeisie in ‘n oop stuk veld langs Ga-Rena woonstelkompleks op die hoek van Witklip- en Spoorwegstraat sleep nadat hy haar oorval het. Na bewering het hy die kind teen die grond vasgedruk en aangerand.

Die ooggetuie het na bewering dadelik die Ladanna-sektorpolisie geskakel wat spoedig op die hulpkreet reageer het. Met hul aankoms ‘n paar minute later is Ndlomi steeds bo-op die slagoffer betrap en in hegtenis geneem. Volgens die stad se polisiewoordvoerder, kapt Mohlaka Mashiane is die jong slagoffer na die hospitaal gehaas waar sy mediese hulp en traumabehandeling ontvang het.

Ndlomi het Maandag in die Polokwane-landdroshof op klag van verkragting verskyn waar sy borgtogaansoek van die hand gewys is. Die saak is vir verdere ondersoek deur die polisie se gesinsgeweld- en kinderbeskermingseenheid tot Augustus uitgestel.