Mariëtte van de Werken -
ME Mernette Swartz (29), jong kunstenaar in die stad, het na sewe jaar oorsee teruggekeer na haar wortels en familie in Polokwane.
Haar ouers, mnr Merf en me Antoinette Swartz wat steeds in die stad woon en werk, is haar trekpleister.
Met ‘n glasie sap onder die digte bome in haar ouers se tuin, maak sy haarself tuis en vertel met blink oë van haar opwindende omswerwinge.
Reeds as kleuter het sy ‘n tassie, met papier en potlode, oral saam met haar rondgedra. Waar ander meisies met poppe gespeel het, het sy geteken. Sy het haar laerskoolloopbaan by Laerskool Pietersburg-Oos voltooi en haar hoërskooljare aan die Hoërskool Pietersburg deurgebring.
In 2003 het sy haar studies in grafiese ontwerp en illustrasie aan die Potchefstroomse Universiteit voltooi.
In 2004 is sy met ‘n rugsak en groot drome Londen toe. Daar het sy vir twee jaar spyseniering vir die koningin se span help doen en bier geskink in die sokkerlosies. Sy was onder meer onderwyser by ‘n skool vir gestremdes en later ‘n kinderoppasser vir ‘n familie wat Amerika toe verhuis en haar saamgenooi het.
Swartz het vir ‘n jaar in Amerika gewerk en geswerf en op een goeie dag besluit om haar heil in Taiwan te gaan soek.
Volgens haar was dit die beste drie jaar van haar lewe.
As kleuterskoolonderwyser kon sy haar kunspassie uitleef deur kunsklasse vir kleuters en volwassenes aan te bied en by kunsmarkte uit te stal.
Sy voel sy het haar talent met ‘n doel gekry en leef dit ten volle uit. Sy vertel met blink oë, “Ek is op hierdie aarde geplaas om met mense te praat deur my kuns. Godsdiens is nommer een in my lewe en ek leef daarvolgens. Ek probeer mense op die regte pad lei deur reg te leef en op God te vertrou in alles wat ek aanpak.”
Sy beskryf haar kuns: “My kuns is geïnspireerd. Elke skildery is anders, met iets van myself, ekspressie, kleur, vorm, drome, beelde of ‘n spesifieke idee en boodskap wat ek wil oordra. Ek werk met ‘n spesifieke idee, maar los dit ook oor aan gevoel en emosie.”
“Ek is nie ‘n roetinemens nie en hou nie daarvan as mense my oor dieselfde kam skeer as ander kunstenaars nie. Ek is ‘n mens in eie reg en gee nie voor om te wees wat ek nie is nie.”
Volgens haar is kuns daar om ‘mind-sets’ te verander, om ander te laat droom en die wêreld sonder oogklappe te beleef.
Talle opwindende uitstallings lê vir haar voor. “Vir nou is ek rustig en geniet dit om by my ouers te kuier. Ek sal in Junie besluit waar my volgende huis is. Miskien pak ek weer ‘n tassie en gaan vir ‘n paar jaar oorsee.”