Kleiduifskuts mik hoog en akkuraat



RC Myburgh
Drie skuts van die plaaslike Palmietfontein Kleiduifskietklub neem aan die einde van die maand aan die Chairman’s Cup uitnodigingstoernooi in KwaZulu-Natal deel.
Hardus Saaiman, sy seun André Saaiman en Frans Pieterse is drie van die twaalf skuts wat Limpopo tydens die toernooi sal verteenwoordig.
Pieterse het in 2009 sy Springbokkleure verwerf. Hardus is een van drie Suid-Afrikaners wat Suid-Afrika vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer in San Antonio in Texas tydens die Wêreld Kleiduifskietkampioenskappe verteenwoordig en uitsonderlik presteer het. Hy het ‘n goue medalje in die 12-boor-afdeling en silwer medaljes in die 20-boor- en 410-kombinasie-afdeling verwerf.
Hy het ook ‘n brons medalje in die 20-boor en 410-kombinasie MiniWorld-afdeling gekry. In die 12-boor-afdeling het hy volpunte gekry en 98 kleie en 94 kleie uit ‘n 100 in die 20-boor en 410 kombinasie-afdelings onderskeidelik raakgeskiet.
Die kampioenskappe bestaan uit agt stasies wat geskiet word waarvan sommige enkel en ander dubbelkleie in die lug gooi. Die kleie word dan ook van ‘n hoog- of laaghuis die lug ingeslinger.
"Soos met enige ander teiken-sport is veiligheid en onderdanig-heid aan die reëls van uiterste belang. Tydens kompetisies moet deelnemers met hul gewere oop rondbeweeg sonder ammunisie in die loop. Skeidsregters en baanbeamptes is streng wat die toepassing van die reëls betref," sê Saaiman.
Op die vraag of dit baie moeite is om jou geweer oorsee te neem, antwoord hy: "Die Amerikaners is baie toegeeflik. Ek het een faks Amerika toe gestuur en ek het vinnig my invoerpermit gekry. Aan die Suid-Afrikaanse kant het ek minder as ‘n uur gewag om ‘n uitvoerpermit te kry. Kleiduifskiet in Amerika kry meer aftrek as gholf." Hy sê dat wapens in Amerika van die rak gekoop kan word en dat Amerikaners slegs ‘n permit nodig het as hulle ‘n handwapen koop.
Sy liefde vir die sport het sewe jaar gelede begin toe hy ‘n fondsinsamelingfunksie van ‘n kleuterskool bygewoon het. "Een van die items tydens die dag was kleiduifskiet. My seun, André het ’n spanmaat gekort. Net hier het die gogga my gebyt en die verslawing net groter geword," sê hy. Op sy kleinhoewe buite die stad het hy sy eie oefenbaan. Hy glo sy sukses spruit uit harde oefening. "Ek oefen elke middag behalwe Sondae." André, wat ook gereeld saam sy pa oefen het vanjaar sy Spingbokkleure met vier kleie gemis.
Saaiman sê belangstelling in die sport word deur die ekonomie geknel. Vir elke skoot wat afgevuur word, kos dit ongeveer R3. Hy sê as skuts self hul ammunisie herlaai, is dit goedkoper. Van dié drie plaaslike skuts kan verwag word om Limpopo se naam tydens die Chairman’s Cup sonder twyfel hoog te hou.