
RC Myburgh
Sy beskryf haarself as iemand wat nie terugstaan vir uitdagings nie en eers skrik as die uitdaging verby is. Sy is ‘n perfeksionis wat nie hou van mislukking nie, maar weet hoe om iemand te prys wat dit verdien.
Dit is me Karen Botha, bemarkingsbe-stuurder van Savannah Mall, met 19-jaar ondervinding in bemarking. Sy is ook predikant, musikant, senior voedselouditeur en ma.
"Tydens my studies in teologie was bemarking een van my vakke en dis waar die gogga my gebyt het om bemarking te studeer," sê sy.
Sy meen die bedryf het die afgelope tyd baie verander.
"In die verlede het mense gedink bemar-king is om ‘n advertensie in ‘n koerant te plaas. Vandag moet jy egter heeltyd een voor jou opposisie wees, want daar is soveel meer besighede en produkte op die mark. Tegnologie speel ook ‘n groot rol in hedendaagse bemarking."
Karen se man, Rick, is ook ‘n predikant wat reeds sy eerste boek gepubliseer het met ‘n tweede op pad. "My oudste seun is ‘n finansiële konsultant by ‘n bank en ‘n tromspeler wat ook tromlesse aanbied. My jongste seun is ‘n gimnasiuminstrukteur, gekwalifiseerde valkhanteerder en dokumentêre filmmaker," sê sy.
Haar huis is vol humorsin en hulle lag baie. Sy meen sy het saam met haar kinders groot geword en hulle is soos goeie vriende vir haar.
Haar stokperdjies is musiek en lees. Sy lees graag romantiese verhale en luister na Eden, Coenie de Villiers en Paul Buckby se musiek. ‘n Tipiese dag in haar lewe begin wanneer sy beneuk opstaan. Sodra sy stil geword en haar grimering gedoen het, is sy wakker. As daar tyd is sal sy gou iets peusel vir ontbyt.
Haar werk begin sodra sy by Savannah Mall se parkeerterrein inry en begin rondkyk wat aandag nodig het. Nie een dag is dieselfde op kantoor nie omdat elke dag nuwe plesiere en probleme het. Maar teen huistoegaantyd sluit sy af en spandeer tyd saam haar gesin waar sy skoene uitskop en kos maak.
Sy het ‘n voorliefde vir roomys en glo sy maak die lekkerste koekstruif en groentesop. Haar gunsteling-vakansieplek is Jacobsbaai aan die Weskus waar branders haar van binne kalm maak.
"Ek het ‘n ding oor mense wat heeltyd loop en kla en sanik oor niks," sê sy. Dit maak haar hartseer om honger mense te sien.
Botha meen dat besighede in Polokwane nie hande vat en saamwerk nie, maar eerder teen mekaar werk. As besighede kan saamwerk, sal die hele stad daarby baat.
"My raad aan die jonger geslag wat eendag suksesvol wil wees is: Moenie dink jy gaan na skool met ‘n groot salaris iewers begin werk nie. Begin onder en werk jouself op. Jy moet die pad na jou droom onder begin".


