
Danél Esterhuysen Heuwelkruin Kollege het die naweek vir die stad se enigste oorwinning in die Limpopo-rugbyfinale gesorg toe hul dodelike o.16-rugbyspan met 59-0 oor Settlers in die liga vir kleinskole geseëvier het. Die Kruinies het van die afskop af die pap dik aangemaak en die bal lug gegee. Settlers se verdediging is telkens oopgekloof. Gevolglik het die Kruinies agt drieë in die wedstryd gedruk. Senters Johan Smit en Tyler Botha het ‘n driekuns drieë behaal, terwyl spankaptein en skrumskakel Righardt Kachelhoffer en vaskopstut Craig Bennett ook agter die doellyn gaan kuier het. Kachelhoffer het ‘n droomwedstryd met sy stelskopwerk beleef en ‘n 100% tref-tempo behaal. Hy het al agt drieë suksesvol verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag. Sy persoonlike bydra tot sy span se totaal het 24 punte beloop. In die o.15-finale vir kleinskole het die Kruinies teen Stanford Lake College te staan gekom. In dié naelbyteindstryd het die Krui-nies vroeg in die wedstryd voor geloop na ‘n pragdrie deur die flank, Jan Heystek. Stanford se spelers het egter kop gehou en ‘n strafdoel sowel as ‘n sewepunter aangeteken om die voortou te neem. Hierna het Stanford weer gaan druk om die voortou verder te rek en met ‘n strafdoel geslaag. Kruinies se kaptein, Vianne Klein-geld, het toe sy eie drie gedruk en verdoel om die telling op 18-12 te staan te bring. Met speeltyd verstreke het die Kruinies se voorspelers vanaf ‘n strafskop oor die doellyn gebars, maar ongelukkig die bal verloor. Stanford het uiteindelik as die ligawenners uitgetree. Kruinies se o.15- en o.16-rugbyspanne dring albei deur na die kwarteindrondte van die Beeldtrofee. Die wedstryde sal op Heuwelkruin se tuisveld op Saterdag, 7 Augustus beslis word. Die o.15’s kom teen die wenner van die Pumas, Komatipoort Akademie, te staan, terwyl die o.16’s teen die naaswenner van die Goue Leeus, Hoërskool Die Burger, sal kragte meet.

