Gewapende roof in Bendor



Danél Esterhuysen

 

Drie gewapende mans het Donderdagmiddag by ‘n huis in Bendor inwoners gedreig, aangeval en besteel toe hulle hulself as werkers van ‘n maatskappy wat herstelwerk sou doen, voorgedoen het.

Volgens inligting het die drie verdagtes glo aan die deur van ‘n huis by Platinumbend geklop en hulle as kontrakwerkers voorgedoen. Aangesien die inwoners ‘n werker van die maatskappy, wie se naam nie genoem mag word nie, verwag het, het hulle die deur oopgemaak. Hulle is daarna deur die gewapende mans beveel om op die grond te lê. Die booswigte het volgens kapt Mohlaka Mashiane onder andere ‘n televisiestel, ‘n hoëtroustel en duursame skoene gesteel.

Die werknemer van die maatskappy het later op die toneel afgekom terwyl die misdaad plaasgevind. Volgens Mashiane is hy ook beveel om op die grond te lê voordat die drie booswigte in die rigting van ‘n oop stuk veld oorkant die kompleks te voet gevlug het.  Binne etlike minute was daar bykans twintig gewapende polisielede op die toneel, sowel as die polisiehelikopter wat die gebied gefynkam het. Die rowers is egter steeds soek.

Volgens ‘n buurman van die slagoffers, is die oop stuk veld oorkant Platinumbend in Luusstraat ‘n groot probleem. Etlike versoeke is al aan die Polokwane Munisipaliteit gerig om diè stuk veld skoon te maak en die gras kort te sny, telkens sonder sukses. Hy vertel verder dat daar al die afgelope maand twee keer by sy huis ingebreek is en dat misdadigers dan in die rigting van die veld vlug en wegkruip.

Mashiane het bevestig dat ‘n klag van huisbraak en gewapende roof deur die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid ondersoek word. Niemand is tydens die voorval beseer nie.