
Mariette Snyder
Met die eerste oogopslag lyk Lelanie van Heerden soos ‘n tienermeisie wat haar tyd by ‘n koffiewinkel tussen inkopies verwyl.
Agter dit skuil egter baie vasberadenheid en groot deursettingsvermoë. Die aanvanklike teleurstelling om nie vir medies gekeur te word nie het sy omgesit in prestasie en uitmuntendheid.
Die 24-jarige slimkop kan na ses jaar dokter voor haar naam skryf en het verlede week die eed van Hippokrates afgelê waartydens sy onderneem het om altyd die hoogste etiese norme teenoor haar pasiënte na te kom.
Wat haar prestasies merkwaardig maak, is dat sy tydens haar studies jaarliks gepromoveer het en in die ses jaar nooit eksamen geskryf het nie.
Boonop het sy vanjaar in agt van haar dertien vakke onderskeidings behaal.
Van Heerden het in haar graad 11-jaar by verskeie universiteite vir mediese keuring aansoek gedoen en in 2005 matriek met ses onderskeidings geslaag.
Dit was egter steeds nie genoeg nie en sy’s afgekeur. Slegs die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa) het haar aanvaar.
"Medunsa was nie vir my goed genoeg nie. Ek het my hart op die Universiteit van Pretoria (Tukkies) gesit," vertel sy.
Na baie trane en wik en weeg het sy besluit om mediese wetenskap aan die Universiteit van Pretoria te studeer waarna sy na ses maande as een van 20 uit 400 studente gekies is om medies te studeer.
Sy vertel dat die ses jaar ‘n rowwe tyd was, maar dat sy dit tog geniet het. Sy het tot in die oggendure geleer vir toetse en het skaars ‘n sosiale lewe gehad.
Sy sê dat sy jaarliks die jool deur haar venster agter boeke dopgehou het.
Van Heerden vertel dat die laaste jaar die moeilikste was.
"Ons het meer prakties as teorie gedoen wat beteken dat ons meer in die hospitaal gewerk het en bitter min tyd gehad het om te studeer. As jy vir 24 uur aaneen werk is daar nie eers tyd vir eet nie, wat nog van leer.
"Maar ek het dit gemaak en pluk vandag die vrugte omdat ek alles gegee het," vertel sy trots.
"Ek doen presies wat ek nog altyd wou doen. Van ‘n baie jong ouderdom af het ek geweet my roeping in die lewe is om ‘n dokter te wees.
"My broer en poppe het gereeld onder my hande deurgeloop. Ek het my poppe oopgesny net om hulle weer toe te werk. Die kieme wat ek gekweek het, is op my broer getoets sodat ek hom weer gesond kon dokter," vertel sy laggend.
Sy wil spesialiseer, maar het nog nie ‘n definitiewe besluit geneem oor die rigting nie. Na haar twee jaar van internskap as huisdokter by Tembisa Hospitaal, sal dit dalk ‘n makliker besluit wees.
Op die vraag waar haar lewenspad haar verder gaan lei, antwoord sy met sterre in haar oë: "Ek trou Saterdag met die man van my drome. Vir die volgende twee jaar gaan ek nie aan ‘n boek raak nie. Ek gaan kwaliteittyd saam met my man spandeer en so gou moontlik met ‘n gesin begin."


